Ek skud my kop

Marinda Cox, Sinodale Evangelisasie, VGK Noord-Tvl, skryf:

Ek skud maar net my kop in ongeloof as ek so na die beloofde land (Ga-Rankuwa) se artikel in die onlangse Kerkbode, 16 Februarie 2018, kyk. Vir jare en jare swoeg en sweet ons om sendingwerk te doen, bou kerke, versprei Bybels, kos, klere en wat ook al daarmee gepaard gaan en een of twee plaaslike gemeentes wat dit amper nie kan bekos­tig nie, reik ons die hand.  Die Here voorsien nog altyd in ons behoeftes.  Nooit dik stukke koek nie, maar ook nooit net krummels nie. Net genoeg! Die Liewe Vader weet hoeveel het ons nodig en hoeveel kan ons vermag. Ek vra maar net, want dit is nie vir my om te sê wat u mag en nie mag doen met u fondse nie.

My ondervinding is dat almal met vuur inspring by ’n projek en na sowat vyf jaar sit almal met hulle voete by die vuur. Soveel keer moes ek hoor: “Mma Coxie, maar die kerk het met soveel beloftes gekom en waar is hulle nou?” Daar is VGK-gemeentes wat letterlik bars om elke maand net te oorleef en ons help waar ons kan met beperkte fondse en dan praat ons nie eens van ons eie mense se nedersettings nie.

Ek gun hulle hulle beloofde land maar wat van ou, gevestigde gemeentes en sendelinge wat swaarkry en ook veg om oorlewing?  Waar die behoefte aan kos voorkeur kry bo die aankoop van ’n Bybel. “Mma Coxie, hoe moet ons Bybels koop as ons nie eens geld het vir kos nie?”

Ek kan maar net sê: “My hulp is van die Here” en dui­send dankies aan ons donateurs met oop hande en harte.