Om te gee is beter as om te ontvang

In die Kaap val ’n glas water aan die ontbyttafel om en die graad R-dogtertjie gaan aan die huil oor die vermorsing van water. Die droogte en waterkrisis in die Kaap het diep in die gemoed van ons almal kom lê. Daar gaan amper nie ’n gesprek tussen vriende en kollegas verby sonder dat ons daar­oor praat nie.

Ja, ons het eers ontken, toe begin vinger wys na Stad Kaapstad se bestuur wat nie die tekens reg ge­lees het en vroegtydig maatreëls in plek gestel het om Dag Zero te voorkom nie. Dit is opgevolg met woe­de oor die duidelike politiekery oor die saak. Is dit onmoontlik vir politici om iets anders te doen as die politieke munt uit alles te probeer slaan? het men­se tereg woedend gevra. Toe het daar ’n weerlo­se magteloosheid tussen ons kom lê. Wat gaan ons maak as Dag Zero regtig aanbreek?

En toe kom daar uit die bloute die aankondiging van die Groenland-watervoorsieningskema uit Gra­bouw dat hulle 10 miljoen kubieke meter water loslaat sodat dit uiteindelik gepomp kan word in die Bo-Steenbrasdam om beskikbaar te wees vir gebruik in Stad Kaapstad se waterstelsel (Kerkbode, 2 Maart 2018).

As gevolg hiervan kon Dag Zero met ’n paar we­ke aangeskuif word tot 9 Julie. Die gebaar het ons ge­meenskap diep geraak. Die radiostasie Kfm het binne dae die samewerking van kunstenaars gekry om ’n gratis musiekkonsert in Grabouw aan te bied om dankie te sê. Ons het begin verstaan dat Dag Zero voorkom kan word as ons bereid is om te deel.

Dink jou ’n bietjie in hoe die gesprek moes gaan om die tafel toe die besluit geneem is. Vir die eerste keer in die geskiedenis loop die Eikenhofdam nie oor nie, die droogte vang hulle ook, hulle sal moet begin om versigtig te werk met hulle water. Ekoloë voorspel dat ons in die Kaap ons gereed moet maak vir ’n langtermynvermindering in reënval. Moet ons nie maar, gegee ons omstandighede, eerder opgaar en die water hou nie?

Goed wetend van die risiko indien daar nie vroeë reën val nie, besluit Johan Groenewald en sy be­stuur hulle gaan oorvloedig skenk. “Hoe kan ons nie deel nie as daar aan die ander kant van die berg ’n tekort is en ons genoeg het om te kan deel?” ver­dui­delik hulle nederig aan almal wat navraag doen.

En dit is nie net hulle wat so dink nie; met die droogte in die Vrystaat ’n paar jaar gelede het Suid- en Wes-Kaap se boere mildelik gehelp met voer. Met die Knysna-brande, het die Vrystaatse Sinode spontaan en mildelik gegee vir die rampfonds. Intussen het daar verskeie sulke inisiatiewe ontstaan wat mense help om hulle bronne met mekaar te deel.

Om te kla verander niks nie, om vinger te wys nog minder, om kwaad te wees en kwaad te bly is ’n vermorsing van energie. Om te deel, maak ’n verskil. Dit gee hoop. Om te gee is inderdaad beter as om te ontvang en beslis beter as om op te gaar.

Dr Frederick Marais is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.