Deernis is Cordis-wenners se besigheid

WELLINGTON. – “My dogtertjie sou vanjaar vyf gewees het. Leeg beskryf my lewe van vyf jaar terug.”

Só het Justine Pike gesê by die ontvangs van die Bybel-Media-Cordis-Trust-prys. Sy is die medeskrywer van die boek Leeg – God se troos na swangerskapverlies of miskraam wat dié prys vir oorspronklike Afrikaanse, Christelike familie- en/of jeugpublikasies gewen het.

“Maar soos ons na ander uitgereik het, het God ons seer kom genees,” sê Justine, ʼn pastoor wat self ʼn miskraam gehad het.

Dr Marlena du Toit, ginekoloog en medeskrywer van Leeg, het aangedaan verduidelik dat sy net die vorige dag weer vir ʼn ma moes meedeel dat haar baba nie meer leef nie. “Dit is elke keer so erg. Dit maak dit ook net swaarder dat daar nie erken word dat jy na ʼn miskraam ook moet rou nie.”

Ds Braam Klopper, medeskrywer en pastorale terapeut, het beaam dat ʼn miskraam ʼn miskende verlies is. “Die boek bring ook die geleentheid vir mense wat nooit gerou het na ʼn miskraam nie, om dit nou te doen. Al was dit 20 of 30 jaar gelede wat jy ʼn baba verloor het.

“My kleinkind Mathys het onlangs vreeslik gehuil na hy seergekry het. My vrou het sy aandag probeer aftrek sodat hy sy trane sal sluk. Maar hy sê toe: ‘Ek huil nou bietjie’. Ek wil vir mense sê hulle moet soos my kleinseun oor hulle verliese huil.”

Twee toekennings vir spesiale projekte wat van deernis getuig, is ook gemaak.

“Musiek is ʼn universele taal wat álmal verstaan. Maak nie saak of jy wit, swart, pienk of bruin is nie,” het Stefné van Dyk gesê toe sy haar prys ontvang het. Sy gee as vrywilliger by Kleinmond Primêr musiekopleiding en maak die Handevat-musiekprojek in dié omgewing moontlik.

Ds Jaco Strydom van Echo-jeugontwikkeling is bekroon vir sy deerniswerk met die Echo-gemeenskappe.

Na afloop van die oorhandigings het ds Hans Steyn van Bybel-Media gesê al dié pryswenners het een ding in gemeen: deernis vir ander.