Fresh Expressions: Begin by jou passie

Dr Michael Moynagh is ’n Anglikaanse priester. Hy is ook die hoofnavorser van Fresh Expressions by die Universiteit van Oxford. Dr Barry Tolmay, moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal, het hom genooi om Suid-Afrika te besoek. NEELS JACKSON het by die NG Kerk Constantiakruin na Moynagh gaan luister.


Michael Moynagh se silwerwit hare moet ’n teken van wysheid en ervaring wees, want as hy begin gesels, kry ’n mens glad nie die indruk van oud nie. Inteendeel. Daar straal ’n energie, ’n lewenslus uit sy aanbieding.

Reeds met sy eerste stelling laat hy die gehoor regop sit: “Ons moet erken dat elke gemeente nood­wendig eksklusief is.”
Dis onverwags. Dit voel of dit indruis teen alles wat ’n mens al oor missionale kerkwees gehoor het. Maar as hy verduidelik wat hy bedoel, maak dit skielik sin.

Sodra ’n mens besluit het dat jy op ’n spesifieke tyd, en plek bymekaar kom, sodra jy op ’n spesifieke agenda en styl van byeenkoms besluit het, dan sluit jy allerlei soorte mense uit, verduidelik hy.

As jy Sondagoggende saamkom, is daar mense wat nie dan daar kan wees nie. Uit sy Britse agtergrond vertel hy van ’n groep sakemanne wat weekliks byeenkom vir ’n gesprek oor die Bybel. Net daar naby, sê Moy­nagh, is ’n gemeenskap van immigrante uit Ban­gla­desj. Daardie Bangladesji-vroue sal nooit tuis voel in daardie sakemanne se byeenkoms nie. Dit waaroor die sakemanne gesels, raak hulle eenvoudig nie.

Maar mense wat hulle Bybel lees, kan nooit tevrede wees om eksklusief te wees nie, verklaar Moynagh. Jesus was die mees inklusiewe Persoon ooit.

Die enigste manier om die probleem van eksklusiwiteit te oorkom, is deur nog ’n gemeenskap te vestig wat op ’n tyd en plek saamkom, in ’n styl en met ’n agen­da wat daardie mense pas. Fresh Expressions gaan daaroor om sulke geloofsgemeenskappe te vorm vir mense wat nog nie deur die evangelie bereik is nie.

Dan vertel hy die storie van een van die sowat 2 000 Fresh Expressions, die nuwe vorme van kerkwees, in die Verenigde Koninkryk.

’n Paar gelowiges het in ’n spesifieke gemeenskap geadverteer dat mense wat lus is om te roei, op ’n bepaalde tyd op ’n spesifieke plek by ’n plaaslike dam saam­kom. Hulle het kano’s georganiseer, ’n groepie mense bymekaargekry en begin om saam te roei.

Op dié manier het hulle ’n klein gemeen­skappie gevorm en verhoudings gebou. As hulle bymekaar was, sou hulle ’n kort sto­rie­tjie met ’n geloofstrekking vertel. Dan sou hulle mense wat belang stel, nooi na ’n pizza-aand waar hulle dan verder oor gods­diens en die geloof kan gesels.

Aan die hart van hierdie manier van uitreik, lê vrygewigheid en gasvryheid, sê Moy­nagh.

Hy raai mense aan om by ’n passie in hul­le eie lewe te begin, en vertel van nog ’n Fresh Expression.

Daar was twee vroue wat daarvan gehou het om te kook. Hulle besluit toe om tieners in die omgewing te nooi na gratis kookklasse. Maar natuurlik, as daar kos gekook is, moet dit geëet word. So was daar met elke kookklas ook ’n ete.

Daar sou hulle op ’n bloot natuurlike manier oor geloof begin praat. Hulle sou byvoorbeeld kon aanslui­ting vind by ’n brood wat hulle gebak het, en iets sê oor Jesus, wat die brood vir die lewe is. Of hulle sou kon vra of die tieners omgee as hulle bid voor hulle eet.

Mettertyd het van die tieners begin vrae vra oor ­hierdie “God-stuff”. En die byeenkomste het al meer van ’n geestelike kleur gekry. En so het nog ’n vars uitdrukking van kerk tot stand gekom.

Moynagh sê die Nuwe Testament het huisgemeentes ge­ken, maar daar was ook geleenthede dat al die ge­lo­wi­ges saamgekom het. Net so moet hierdie vars uit­druk­kings van kerkwees met die groter kerk verbind word.

Dit beteken nie dat ’n Fresh Expression ’n soort trap­pie na “regte kerk” toe is nie. Dit ís reeds kerk waar hulle is.
Dié kerklikheid is een van vier eienskappe van Fresh Expressions wat Moynagh onderskei. ’n Tweede is dat dit missionaal is. Dit is gerig op mense buite die kerk. Derdens is Fresh Expressions kontekstueel. Dit wil mense liefhê op ’n manier wat by hulle konteks pas. Vierdens is Fresh Expressions daarop gemik om men­se te lei om dissipels te word.
Fresh Expressions is nie beter of slegter as ander vorme van kerk nie, beklemtoon Moynagh. Nuwe en ou vorms van kerkwees het albei ’n rol te speel. “Ons moet ’n én-én-kerk wees,” sê hy.

In die Verenigde Koninkryk het hulle omtrent 200 mense opgelei om sulke vars uitdrukkings van kerkwees te begin, sê Moynagh. Maar daar is reeds omtrent 2 000 sulke nuwe geloofsgemeenskappe. Dit beteken net sowat 10% is deur opgeleide mense begin. Die res is deur gewone dominees en lidmate begin – en in meer as die helfte van die gevalle was dit lidmate, nie do­minees nie.

Jy kan met enige groep werk, sê Moynagh. Ja, daar is maniere van doen waaroor hy raad gee. Byvoorbeeld om nie veroordelend te wees nie, maar verwel­ko­mend. Hoe om ’n gesprek oor ’n Bybelverhaal te voer.

Maar in wese is dit maklik. Jy werk met jou passie. En jy laat die Gees jou lei.