Die Duitse teoloog Jürgen Moltmann waarsku dat die skeiding wat ons maak tussen God en aarde, kan lei tot ’n godlose siening van die natuur en ’n natuurlose siening van God – ’n beskouing wat noodwendig rampspoedige ekologiese gevolge inhou omdat die aarde dan uitgelewer word aan menslike willekeur.
’n Eko-hart verstaan dat volgens die Skrif, God en aarde onlosmaaklik verbonde is: Hy het die wêreld geskape (Gen 1), onderhou dit op ’n daaglikse basis (Ps 104:27-30), is diep daaroor begaan (Ps 36:6-7), maak Hom daarin bekend (Jes 11:9); sluit dit in in sy heilsverbond (Eseg 36) en les bes, herskep dit in Christus (Ef 1:10).
Omdat dit só is, weet die eko-hart, leef ons in sy Skepping met eerbied, dankbaarheid en opmerksaamheid om iets van sy teenwoordigheid daarin raak te sien. Daarom treur eko-harte wanneer die aarde onnadenkend deur die mens beskadig, besoedel, uitgebuit en ekosisteme en spesies selfs vernietig word – veral waar dit gedoen word uit selfsugtige motiewe.