Kolonialisme het NG Sending bevorder

Die NG Kerk se sending in Mashonaland (vandag Zimbabwe) is bevorder deur kolonialisme.

Só het Woordfeesgangers Sondag, 4 Maart, by die NG Kerk se Argief in Stellenbosch gehoor.

Dr Retief Müller, senior lektor in Kerkgeskiedenis, het die inligting tydens ’n Woordfeesgesprek met sy gehoor ge­deel, nadat hy tydens navorsing dié bevinding gemaak het.

Müller het gesê dit was vir hom veral die moeite werd om hieroor navorsing te doen omdat “dekolonisasie” van­dag so ’n brandpunt in Suid-Afrika is. En boonop was sy bevinding ironies omdat oorloë gewoonlik uiters ont­wrigtende gevolge vir die sending gehad het, het hy vertel.

Retief het veral die dagboek en briewe van Andrew Louw, die pioniersendeling in Mashonaland, geraadpleeg.

Hy het op die Matabele-oorlog (1893-1894), die Ma­shona-opstande (1896) en die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gefokus.

Retief se bevinding tydens die eerste twee oorloë was dat die sendelinge van Morgenster as neutraal gesien is, hoewel die inheemse volk nie veel belangstelling in die evangelie getoon het nie. Andrew se vrou, Cini Louw, het na die opstande in September 1897 geskryf dat die plaaslike mense steeds nie ’n belangstelling in die evangelie toon nie, en as hulle wel na die Sendingskool toe kom, wil hulle daarvoor betaal word.

Net hierna het Andrew aan die Kaapse sinode geskryf en vir ’n onderwyser gevra wat spesifiek met vroue kan werk. Presies ’n jaar later kon hy positief rapporteer dat hulle werk beter gaan as ooit tevore en dat die skool floreer. Hy het nie uitgebrei op die rede hiervoor nie, maar dit kon dalk die sowat 10 000 immigrante, wat deur die Britte toestemming gegee is om daar te kom woon, wees wat ’n verskil gemaak het, sê Retief.

Selfs die Anglo-Boereoorlog, waar die sendelinge af­komstig was van die bevolkingsgroep wat as verloorders uit die stryd getree het, het voordele vir die sendingaksies in Mashonaland gebied.

Retief sê: “Maar, ten spyte daarvan dat hulle (die sen­de­linge se) lojaliteit duidelik vir die Britte moes wees, bly die feit staan dat hulle nie teruggestuur is na Suid-Afrika nie. Hulle is toegelaat om rustig met hulle werk voor te gaan wat baie voordele tot gevolg gehad het. Veral die versterking van die sendingpersoneel.”