Kerk en samelewing

Philip Kriel van Kaapstad skryf:

Kerk en samelewing – dis ’n lewenstyl wat ons nie meer ken nie. Deesdae kan ons maar liewer praat van samelewing met skelms. Dis mos wat ons beleef. Die voorskrifte wat bevat is in die riglyne van geloof, is gedegenereer tot “wat kan ek daaruit kry”.

’n Tyd gelede is daar ’n stelling gemaak in ’n televisieprogram dat wêreldwyd die tendens van meeste politici is om te mik om dié pos te beklee vir wat hulle daaruit kan kry en nie omdat hulle die gemeenskap beter wil dien nie.

In die afgelope dekade of wat gaan ons SA-samelewing gebuk onder dié neiging van die meeste politici. Of hoe voel ons samelewing oor dit wat ons ervaar het? Ek stel dit dat ons dit ervaar hét want nou het ons, hopelik, ’n nuwe bedeling onder ons nuwe president.

Dit het my hart verbly om die gelukwense van dr Gustav Claassen aan ons nuwe president in Kerkbode van 2 Maart te lees. Daar was myns insiens in die termyn van ons vorige president niks om hom voor geluk te wens of selfs sy optrede te kondoneer nie. Met hierdie goeie wense het die kerk weer aanknoping gemaak met die seer geagte heer.

En met die aanknoping wat Claassen se skrywe geskep het, wil ek dit graag stel dat dit die kerk se plig is om ook staatsamptenare te vermaan wanneer hulle so openlik met slinkse skelmstreke optree. Ons word herhaaldelik in die Bybel aangespreek om ons broe­ders te vermaan. Dis ons plig en dus ook veral die plig van ál die kerke in SA om weer die konsep van Kerk en Samelewing te vestig. Die een kan nie sonder die ander oorleef nie. En dit sluit myns insiens al die NG Kerke van al die rasse en al die Christelike kerke wat tog een God dien, in.

So: geluk aan pres Ramaphosa. Mag hy ook op sy knieë sy dagtaak aanpak en bou aan ons reënboognasie. Ja, dis tyd dat ons pres Mandela se droom verder voortleef. Maar sonder Godgelowiges sal dit maar moeilik wees, want dit is mos maar ’n menslike neiging om net jou eie potjie te krap.