Deur lyding en kruis …

Hoe verstaan ons iets van wie God is? Volgens die kerk­her­vormer Martin Luther is daar ’n verkeerde en ’n regte manier. HENCO VAN DER WESTHUIZEN vertel meer.


In April 1518, ses maande na die verspreiding van sy 95 stellings, pak Martin Luther die lang pad van Wittenberg na Heidelberg aan. Van die 560 kilometer, via Würzburg, word 400 te voet afgelê. Dit is hoe belangrik dit vir hom is.

Luther se superieur, Johannes von Staupitz, het hom gevra om sy teologie aan hulle te kom verduidelik. Hy is myns insiens reeds deur Johannes van Eck as ’n ketter uitgekryt. Daarby is die Augustynse ­broers ’n paar maande vroeër gevra om Luther te kal­meer. En daarom die versoek.

Die vergadering vind plaas op 25 en 26 April. Die tweede dag van die vergadering word by die universiteit, eerder as in die klooster, gehou. Daar was skyn­baar net te veel wat dit wou bywoon. Luther self lei wat vandag bekendstaan as die Heidelbergse Dis­pu­tasie, waarin hy sy teologie aan sy broers, waaron­der Johann Brenz, Erhard Schnepf, Martin Frecht en Martin Bucer, bekendstel.

Hy doen dit deur middel van 40 stellings – 28 teo­lo­gies en 12 filosofies.

Hy het dit teen wat hy “teoloë van heerlikheid” noem. Dit is teoloë wat God in hulle eie verstaan van heerlikheid sien, in hulle eie voorveronderstellings van wat goddelikheid is of, volgens hulle, veronderstel is om te wees. Hulle is vinnig om te sê God is so, en God is nie so nie. Die Latyn word dikwels so vertaal: “That person does not deserve to be called a theologian who looks upon the invisible things of God as though they were clearly perceptible.”

Dit is daarom dat hy waarsku teen menslike wer­ke, wat met God se werke verwar word. Die menslike werke verhoed in der waarheid die sien van God se werke, van dit wat vir God belangrik is. Dit is daarom dat Luther sê werke verblind. Want juis as ons besig is met dit wat ons dink vir God belangrik is, is ons besig met dit wat vir ons belangrik is. Daarom dat hy sê hulle die slegte “goed” en die goeie “sleg” noem.

Vir Luther word God se werke geopenbaar in Jesus Christus, in die gekruisigde Jesus. Die kruis ontbloot die menslike werke waarteen hy waarsku, die werke wat met God se werke verwar word weens voor­veronderstellings. Alister McGrath sê daarom die kruis is ’n “full scale assault on all human preconceptions of God”.

Dit is juis daarom dat Luther vra dat ons teoloë van die kruis word. Dit is teoloë wat God in die kruis sien, daar waar God Godself openbaar. Wie God is, en wat vir hierdie God belangrik is, word alleen sigbaar deur die lyding en die kruis van Jesus Christus. Dit word só vertaal: “He deserves to be called a theologian who comprehends the visible rearward parts of God as seen through suffering and the cross”.

Aan die een kant word God sigbaar deur lyding en kruis omdat dit juis daar is wat mense hulle eie be­perktheid verstaan. Aan die ander kant is dit juis daar, alleen deur die lyding en kruis van Jesus Christus, wat ons sien wie hierdie God werklik is. ’n Teologie van die kruis sien die werklikheid, sien die wêreld soos dit werklik is. ’n Teologie van die kruis sien God in daardie wêreld, vir die werklike wêreld. Daarom dat Michael Welker sê die teologie van die kruis “directs itself against those forms of religiosity that ignore or circumvent God’s critical encounter with the suffering, distress, and multifarious self-endangerment confronting the world and human beings”.

Maar, volgens Luther, is God nie vir die wêreld soos wat ons dink God vir die wêreld is nie. Waar mense vir ander mense lief is omdat hulle aantreklik is of tot hulle aangetrek word, sê Luther, is dit juis om­dat mense deur God liefgehê word, dat hulle aan­treklik is. Die menslike liefde vermy dié wat anders is. Maar die liefde van God vir en deur mense is ’n lief­de juis vir dié wat anders is. “This is the love of the cross, born of the cross, which turns in the direction where it does not find good which it may enjoy, but where it may confer good upon the bad and needy person.”

Dit is deur hierdie liefde van God wat ons aan die kruis sien, deur middel van hierdie goeie nuus wat aan die kruis sigbaar is, wat ons beweeg word om nabootsers van hierdie gekruisigde God te word, aldus Luther.

Maar 500 jaar later is die vraag of ons nie steeds maar teoloë van heerlikheid is nie. Verkies ons dalk steeds om voort te gaan om self te bepaal wie God is? Verkies ons steeds om self te besluit vir wie God lief is, om self te besluit vir wie God veronderstel is om lief te wees, of selfs nie lief te wees nie? Is dit dan ook die God wat ons daarin naboots?

Dr Henco van der Westhuizen doseer historiese teo­logie aan die Universiteit van die Vrystaat.