Die goeie Herder

Paastyd is dié seisoen van die kerklike jaar waarin gelowiges by uitstek die lewe vier. Jesus lewe. Hy is opgewek uit die dood. Die dood is verslaan. Omdat Hy lewe, kan ons lewe.

Een manier waarop die kerk dit doen, is aan die hand van die gedagte dat Hy die goeie Herder is. Daarom dat die vierde Sondag van Paastyd (vanjaar op 22 April) ook bekend is as Goeieherdersondag.

Die beeld van die goeie herder is ’n ryk metafoor wat verskeie perspektiewe bied op hoe ons God moet verstaan.

Dit is onder meer ’n goeie teëmiddel vir ’n dwaling wat alte maklik in gelowiges se denke insluip: die deïsme wat God sien as ver en nie regtig betrokke by sy skepping nie. Te maklik dink ons aan God as ’n veraf koning, verhewe op sy troon en buite bereik van sy onderdane.

God se koninkryk is anders. Dít sê die beeld van die goeie herder vir ons, want die herder is by sy skape, betrokke by sy skape. Hy lei sy skape. Hy sorg vir sy skape. Hy beskerm sy skape.

Die goeie Herder ken sy skape en Hy is lief vir sy skape. So sterk is die Herder se verbondheid aan die skape, dat Hy sy lewe aflê vir hulle.

En Hy doen dit sodat hulle kan lewe. Want dit is wat die goeie Herder gekom het om te doen. Hy het gekom om vir sy skape lewe te bring, en dit in oorvloed.

Vir gelowiges wat dié Herder volg, is dit ’n geweldige anker in onseker tye: Hy lei.

Om te volg waar Hy lei, vra dat ons ook die lewe vir mense om ons moet laat blom. Ons vier die oorvloe­dige lewe deur dit met ander te deel.