Eensaam, maar nooit alleen

In die twintigste eeu waar daar ’n toenemende verwydering tussen kuns en die kerk tot stand gekom het, was daar ’n paar opvallende uitsonderings. So het die Franse skilder Georges Rouault (1871-1958) hom daarop toegelê om in sy kuns uitdrukking aan sy diepgewortelde geloofsoortuigings te gee, maar op ’n wyse wat hom steeds deel van die heersende kunsbeweging van sy tyd gemaak het.

Die ironie was dat hy nie altyd deur kunskenners as ’n belangrike moderne skilder beskou is nie, en dat sy kuns omgekeerd dikwels nie deur Christelike kritici as van besondere religieuse belang beskou is nie.

’n Belangrike kenmerk van sy kuns is die uitbeel­ding van die eensaamheid en vervreemding van die moderne bestaan en die daarmee gepaardgaande behoefte aan een of ander religieuse ervaring wat bete­kenis aan die lewe verleen. Dit was veral die omstandighede van mense wat in armoede leef en die ellende wat daardeur veroorsaak word, wat telkens weer in sy werk na vore kom.

’n Voorbeeld van die hantering van hierdie tema van armoede en die ontberinge wat dit meebring, is die skildery Christus in die agterbuurte wat Rouault in die vroeë 1920’s voltooi het. In hierdie kunswerk word armoede uitgebeeld as ’n inherent eensame bestaan in ’n vyandige en triestige omgewing.

Die skildery toon ’n verlate straattoneel in die laat nagtelike ure. ’n Groot volmaan hang naby die horison en werp ’n silwer lig oor die somber tafereel wat andersins in skakerings van grys, swart, roesbruin en pers uitgebeeld word. Drie geboue staar soos verskrikte gesigte, elk met ’n mond en oopgesperde oë, na die toeskouer. Daar is geen teken van lewe in hierdie geboue nie – geen lig wat brand en geen menslike figure sigbaar deur die vensters of by die ingang van die geboue nie. ’n Donker langwerpige struktuur net regs van die maan (waarskynlik die skoorsteen van ’n fa­brieks­gebou) rys onheilspellend oor die toneel.

Reg in die middel op die voorgrond word Christus uitgebeeld in die teenwoordigheid van twee persone wat opmerklik kleiner as Hy is. Die bedoeling is waarskynlik om die kleinheid en weerloosheid van die mens teen die agtergrond van die omstandighede van die lewe aan te toon, maar tegelyk ook op die grootsheid van Christus se aanwesigheid te wys.

Die weerloosheid van die twee figure word verder beklemtoon deur die feit dat hulle (soos Christus) kaalvoet is en sonder mond geskilder is. Terwyl die twee in donker skaduwees gehul is, is Christus opvallend in wit geklee, maar met ’n donker strook oor sy hart en middellyf.

Wat Rouault met hierdie voorstelling van Christus wil oordra, herinner sterk aan Christus se woorde in Matteus 28 toe Hy aan sy dissipels die versekering gegee het: “Onthou: Ek is by julle al die dae tot die vol­einding van die wêreld.” Al bevind die twee figure hulle in ’n eensame en donker wêreld, kan hulle moed skep met die wete dat Christus by hulle teenwoordig is en dat Hy steeds sy lig op hulle lewenspad laat skyn.

Dis opvallend dat die Christusfiguur met ’n handgebaar vir die twee persone aandui om saam vorentoe te beweeg. Dit herinner weer aan Jesus se woorde in Johannes 20 waar Hy vir sy dissipels sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Rouault se Christus wys egter nie koers weg van die skaduwees in die rigting van die lig aan nie, maar juis dieper in die skadu’s in. Die implikasie is duidelik dat Christus nie sy volgelinge weglei van die eensaamheid, ellende en swaarkry van die lewe nie, maar dat hulle juis gestuur word om in sulke omstandighede as sy volgelinge te gaan lewe.

Rouault leer ons enersyds om met nugtere realisme na die lewe te kyk en om veral die ontsettende vereensaming en kwesbaarheid waaraan talle mense blootgestel is, raak te sien. Andersyds deel hy met ons sy oortuiging dat ons ten spyte van die mees haglike omstandighede kan weet dat ons nie alleen is nie: Christus is self by ons teenwoordig.

Die twee figure is egter ook menslik gesproke nie volkome alleen nie: Hulle vind mekaar immers in die teenwoordigheid van Christus. Daarmee word aangedui dat geloof nie ’n eensame alleenonderneming is wat ’n mens op jou eie aanpak nie, maar dat dit jou deel maak van ’n gemeenskap van medereisigers. Deel van ’n gemeenskap wat kans sien vir die uitdagings van die lewe omdat hulle dáár kan wees vir mekaar en saam bewus kan wees van die lewende Here wat self ook saam met ons op pad is. Altyd en onder alle omstandighede.