Godsdiens, die staat en Artikel 36

Die gruwelike verhaal van die Mancobo Seven Angels Ministry – met bewerings oor “seksslawe” en die afmaai van ’n hele poli­sie­kantoor in die Oos-Kaap – het die brandende kwes­sie weer na vore gebring: Moet daar nie een of ander vorm van staatsbeheer oor godsdiens wees nie? Die voorstelle van die Kommissie vir die Besker­ming en Bevordering van Kulturele, Godsdiens- en Taalregte wat nou voor die Parlement dien, kom op so iets neer.

Die voorstelle behels ’n stelsel waardeur gods­dienstige bedienaars en godsdienstige organisasies (soos kerke) en sentrums van aanbidding by staats­aangestelde sambreelliggame moet registreer en dat dié liggame weer aan die kommissie moet rapporteer.

Die NG Kerk, soos ook ander kerke, het hulle van sleutelvoorstelle van die kommissie gedistansieer. Volgens die NG Kerk kan dié voorstelle nie versoen word met die Suid-Afrikaanse Handves van Gods­diensregte en -vryhede nie. Hierdie voorstelle, sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, kom neer op staatsbeheer en staatsregulering van godsdiens.

“Dit sal ’n fundamentele skuif wees weg van die huidige bedeling van samewerking tussen die staat en godsdienstige gemeenskappe,” het hy gesê. “Dit sal ’n skending wees van die reg tot godsdiensvryheid wat deur die Grondwet gewaarborg word” (Kerkbode, 28 Julie 2017).

Terwyl ek met dr Claassen saamstem dat ons hier moet ligloop (is daar nie genoeg bestaande lands­wette wat gebruik kan en moet word om die Seven Angels en ander godsdienstige uitwasse vas te vat nie?), het die gereformeerde kerke in dié verband ’n probleem met hulle eie belydenisskrif. Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) stel dit as “die taak van die staatbestuur (…) om die heilige Woordbediening te beskerm om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en orals te laat verkondig …”

So staan dit daar, ja. Volgens die NGB moet die staat alle afgodery en valse godsdiens teengaan en uitroei en die ryk van die antichris vernietig! Min, indien enige, lidmate van gereformeerde kerke sal hierdie artikel vandag sonder meer wil onderskryf. Almal sal saamstem dat dit die owerheid se verantwoordelikheid is om toe te sien dat daar godsdiensvryheid in ’n land is. Dit beteken dat ook die kerk in staat gestel moet word om die boodskap van die Bybel in vryheid te verkondig.

Maar as die owerheid die bediening van die Woord moet beskerm met die doel (van die owerheid) om afgodery en valse godsdiens uit te roei, begewe hy hom op gevaarlike terrein. Wie moet bepaal wat afgodery en wat valse godsdiens is? Die owerheid? Om konkreet te wees: Sê nou die vorige Zuma-regering, met hulle sonderlinge “teologiese” uitsprake, moes hieroor besluit …?

Terwyl Artikel 36 nog daar staan en ons dit as in ooreenstemming met die Bybel bely, gee ons aan die staat magte wat hom nie toekom nie. Die staat kan nie teologie bedryf nie. Dan beland ’n mens waar Iran of ander Moslem-state is waar die staat op verskillende maniere teologie beoefen. Dit lei tot rampspoed.

Terwyl daar beslis opgetree moet word teen kultusse/sektes wat gruweldade soos die Angels pleeg, moet dit binne die bestaande wette gebeur en nie deur aan die staat magte te gee wat hy nie mag hê nie.

Maar, sal iemand opmerk, is dit dan nie wat gebeur as mense die kerk hof toe neem nie? Is dit nie ’n geval waar die een been van die staat – die regterlike gesag – ingeroep word om oor kerklike, teologiese sake te beslis nie? As die hof hom oor teologiese kwessies sou uitlaat, is dit verkeerd. Die Hooggeregs­hof het hom destyds in die Johannes du Plessis-saak juis weg gehou van teologie toe hy ’n uitspraak ten gunste van Du Plessis gelewer het. Die hof het egter wél gekyk of die NG Kerk hom/haar aan sy/haar eie reëls gehou het. En omdat dit nie gebeur het nie, het die kerk die saak verloor.

Hoe goed bedoeld, ons is op glibberige terrein as die staat teologie begin bedryf en moet besluit wat “waar” en wat “vals” is. In die (nog altyd) kommunistiese staat, China, is daar ook die vereiste dat kerke/ godsdienstige organisasies hulle moet “regi­streer”, en dit lei onvermydelik tot die ernstige inperking van godsdiensvryheid. Dit moenie hier by ons gebeur nie. En Artikel 36 van die NGB is in dié verband erg problematies.

Dr Frits Gaum is ’n emeritusleraar. Hy was moderator van die NG Kerk in Wes-Kaapland, skriba van die Algemene Sinode en redakteur van Kerkbode.

Art 36 van die NGB sê onder meer

“Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel …”