‘Ons voel geroepe vir die uitgeworpenes’

EJ en Sané Leach se verhaal laat ’n mens ’n bietjie aan Handelinge 16 dink.

Daar reis Paulus, Silas en Timoteus deur Klein-Asië op soek na geleenthede om Jesus as die Een wat opgestaan het, te verkondig. Die span sukkel. “Waarheen nou?” Want as dit nie “die Heilige Gees” was nie, is dit “die Gees van Jesus” wat hul­le verhoed om sekere provisies te infiltreer. En dan beweeg hulle vorentoe in die rigting wat die minste weerstand bied: wes. Later, teen die kus, verskyn ’n “gesig van ’n Masedoniese man” wat hulle oornooi om die Goeie Nuus te deel.

Die uiteinde van hul gehoorsaamheid? ’n Sakevrou kom tot inkeer, ’n kerk word geplant en die evangelie versprei soos ’n wegholveldbrand deur Europa.

EJ en Sané Leach (dominee en maatskaplike werker) is op ’n soortgelyke reis – na Indië. En dit is nie die tropiese wittebroodstrande van Goa wat dien as trekpleister nie, maar die stofstrate van Hyderabad.

Albei het ’n kruispunt bereik met dié dat EJ se kontrak as leraar by Waverley-Oos tot ’n einde kom en Sané haar studies voltooi het. “Waarheen nou, Here?” het hulle gevra. En soos die sendelinge in Handelinge 16 wag hulle geduldig om op­nuut die Here se roepstem te hoor. Dis toe dat ’n deur oopgaan vir hulle as sende­linge na Hope Unlimited Church en 4BServe, ’n nie-regeringsorganisasie in Indië.

Waarom sou mens Indië toe verhuis?

Sané antwoord: “Ons voel geroepe vir die uitgeworpenes en die gemarginaliseerdes; om verhoudings te bou met diegene wat op die rant van die samelewing funksioneer. Diegene wat Jesus nog nie ken nie.”

Wat dan van ons eie land? Is hier nie genoeg nood nie?

“Ons is baie lief vir Afrika. Ons sal terugkom. Vir nou wil ons egter genoeg bloot­stelling kry en ervaring opbou by verskillende NRO’s en projekte in Indië om iets soortgelyk te begin in Suid-Afrika. Ons is ontvanklik en oop om te leer.”

EJ en Sané berei hulleself voor vir ’n lewe van eenvoud en minimalisme in Indië – iets waarna hulle baie uitsien.

“Ons weet nog nie waar ons gaan bly of wat ons gaan verdien nie,” sê hulle kort voor hulle vertrek. “Dis ons roeping en die ondersteuning van familie, vriende en ge­meenskappe sal ons dra deur die moeiliker tye.”