Selfs op ’n rommelhoop lê stukkies Goeie Nuus

Ds Hanri Joubert van Britstown was “opgewerk, moedeloos en sommer net befoeterd” toe God hom tussen die rommel met die evangelie verras. Hy vertel die storie.


Ek hoor soms hoe gelowiges mekaar se konsep van kerkwees skerp kritiseer. Wat een as kerk be­leef is vir ’n ander totaal verdraai, misplaas of on­aanvaarbaar. Self het ek weer onlangs beleef dat God van verrassings hou. Dat ons dalk stadiger moet kritiseer en meer moet luister, want God beweeg op plekke waar mense hom dalk nie sou verwag nie. Is dit nie juis wat Jesus kom doen het nie? Om op plekke en saam met mense te wees waar die Messias waarskynlik nie verwag sou word nie?

Ek wonder of ons nie dalk te behep is met wat kerk is wanneer ons tussen die vier mure is nie, eerder as om te fokus op wie die God is wat ons daar wil ontmoet. Die God wat ook buite daardie mure besig is en wat ons uitnooi om deel te raak van daardie bewe­ging. Dalk het kerkwees meer daarmee te doen om hierdie kreatiewe, onverwagse en selfs speelse God in die onverwagse raak te sien. Om nie net te sien nie, maar ook te soek en saam te speel.

Onlangs het ek dit weer opnuut beleef. Ek deel die belewenis: Ons het ’n besluit geneem dat ons plaaslike her­winningsprojek, ’n inisiatief gebore uit die gemeen­te, nou eenmaal per maand deur vrywilligers ook die dorp met ’n geleende laaigraaf sal skoonmaak.

Vroeg een Dinsdagoggend ry ek opgewonde na die projek se perseel in afwagting van die massas wat sou opdaag om ons dorp skoon te maak. Rentmeesterskap is immers ’n Goddelike opdrag, boonop is dit ons almal se dorp en ek kan nie dink dat een persoon nie sal wil help nie, maar helaas … dit was maar weer net die ge­willige donkies. 

Effens gefrustreerd is ek die dorp in. Ek was nie eens lus om my kort opening te doen waaroor ek op­ge­wonde was nie. Ek wou ’n paar gedagtes los oor God en die ekologie.

Ons enkelinge het daar in die warm son begin rommel optel, hopie vir hopie. Ek, sommer goed omgekrap, het besluit ek sal die wêreld uitblok en het my oorfone ingesit en kliphard my musiek geluister terwyl ek graaf vir graaf die rommel op ’n hoop skep. Opgewerk, moe­deloos en sommer net befoeterd. 

Waarom probeer ek nog? Waarom staan ek hier in die son terwyl soveel ander eenvoudig nie omgee nie? Dis ’n verlore saak! Al die gewone verwyte en vrae. In retrospek besef ek dat hierdie gevoel waarskynlik gebore is omdat ek sélf ook in die gat getrap het om kerk te beoordeel volgens die standaarde wat ons binne die vier mure gestel het: getalle.

Na ’n tydjie sien ek uit die hoek van my oog ’n mu­ni­sipale werker aankom. Geïrriteerd hoop ek dat hy my sal uitlos. Ek is nie lus vir die wêreld nie. Eindelik haal ek maar teen my sin die oorfone uit ordentlikheid uit.

“Môre dominee, dankie vir die hulp, ons sien raak wat julle doen. Ons moet meer saamstaan. Die Here wil ons saam gebruik!”

Hy bied sy hulp aan, help waar hy kan, met ’n glimlag. Skielik is dit asof hy sy werk weer geniet en daar ontdek ek iets van die evangelie opnuut tussen die rom­mel. God gee ons vir mekaar! Hy was nie daar tussen die vuilgoed net ’n geskenk van God vir my nie. Ek was ook vir hom ’n geskenk. Ons kon mekaar bemoedig.

Met die trekker word die rommel wat in die dorp versamel is, in die stortingsterrein van die sleepwa afgestoot.

Nie lank daarna nie kom die verkeershoof van die dorp daar aan. Ons ken mekaar van sien, sal darem kop knik vir mekaar as ons verby mekaar ry in die dorp, maar nie veel meer nie. Vandag se ontmoeting is egter anders. Hoe nader hy oor die pad aangestap kom hoe breër raak die glimlag en wyer gaan die arms oop. Ek hou nie baie van fisiese kontak nie, maar hier besef ek toe: Broer, hier gaan gedruk word. Tydens wat na die langste druk ooit gevoel het, hoor ek: “Dankie, Dominee, dankie, dankie, dankie. Wanneer kom julle weer, Dominee? Ek sal afvat, ek wil kom help, dis mos ons almal se dorp dié.”

Daar op die vullishoop ontdek ek nog iets van die evangelie. God maak van vreemdelinge vriende.

Later die dag is ek deur die dorp se raadslede ge­na­der wat ook volgende keer wil kom aansluit, ek is selfs deur ’n leier van ’n onafhanklike kerk genader en uitgenooi om deel te kom neem aan een van hul eredienste, want: “Dominee, soveel afstand mag daar nie wees tussen kinders van die Here nie. As ons saam in die dorp is kan ons mos saam in die kerk ook wees.”

Op ’n mislukking van ’n skoonmaakpoging verras God my met stukkies evangelie op die rommelhoop. Wat in my oë as ’n mislukking getel het, was vir God ’n tyd van kreatiwiteit, ’n tyd om te gee, ’n tyd om nader te trek.

Dalk … net dalk moet ons stadiger wees met die fina­le antwoorde, versigtiger wees om mekaar so vinnig af te skiet, want God kan selfs tussen die rommel stukkies Goeie Nuus laat lê.