Wat sê ons oor evangelisasie?

Daar het ’n groot stilte in die kerk neergedaal oor evangelisasie. Dit is asof niemand in die kerk meer wil praat oor mense se bekering tot die Christelike geloof nie. En as daar tog ge­dwonge gesprekke hieroor gevoer word, hoor jy onmis­ken­baar die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan.

Voorheen het bykans elke kerkraad ’n kommissie vir evangelisasie gehad. Sinodes het predikantposte geskep met die oog op die evangelisasiewerk van die kerk. Programme is ontwikkel en is wyd en syd in die kerk gebruik om mense toe te rus met die oog op evan­gelisasie. Dit is immers geag as een van die be­langrikste funksies van die kerk, dat mense gehelp word om vir Jesus te aanvaar as Verlosser en Saligma­ker.

Die pad tot oorgawe is in drie, vier of vyf stappe afgetel. As jy net met oortuiging jou naam kon inskryf in Johannes 3:16, was alles reg. Dikwels is die afgryse van die ewige verdoemenis benut om goedgelowige mense te oortuig dat jou geloof in Jesus bely moet word. Draai of braai.

Sonder enige formele besluit, is hierdie strategieë laat vaar. Dis asof die kerk net gesamentlik tot die be­sef gekom het dat die evangelie op ander maniere aan mense gebring moet word. Die rigiede “ons wat glo”-, en “julle wat nie soos ons glo nie”-scenario het verkrummel. Die teikenontvangers van die evangelie het immers oneindig divers geword. Daar is die ateïste en die agnostici, daar is dié wat kerklos en kerkvervreemd is, daar is dié wat sukkel om geloof en wetenskap te versoen, daar is die gesekulariseerdes en dié wat aggressief hulle ongeloof bely. Daar is ook dié wat glo, maar nie altyd die tradisionele formulerings van die geloof omarm nie. Daar is ook dié wat die voorvaders deel gemaak het van hulle geloofsouvre. En natuurlik is daar die Moslems en Hindoes, die Boeddhiste en die Jode.

Intussen het die kerk ’n missionale teologie omarm en die vraag is nou wat die betekenis daarvan vir evan­gelisasie is. Kan ons nog in ’n pluralistiese wêreld waarin daar soveel respek betoon word aan mense se oortuigings en kulture, enige vorm van beïnvloeding na ’n “beter” stel geloofsaannames propageer of beoefen? Dit is die een vraag wat beantwoord moet word. Maar die teenvraag is of ’n kerk wat regtig omgee vir mense nog kerk is as dit nie die geloofsoortuigings daar­van aan ander oordra met die doel om hulle te oortuig nie?

Myns insiens is die Bybel baie direk in sy opdrag om die evangelie te verkondig en alle mense bewus te maak en deel te maak van die beweging van Christus in die wêreld. Die vraag is dus eerder “hoe” dit gedoen moet word. En dit is die antwoord op hierdie vraag wat ons onseker laat klink.

Die antwoord lê nie in stappe nie, maar eerder op drie vlakke. Ons moet eerstens die inhoud van die Evangelies, die logos, goed verstaan. Hy nooi ons in in ’n alternatiewe lewe. Dis die koninkrykslewe waar­van Hy so baie praat in sy preke en gelykenisse en waarvan sy wonders sulke helder verduidelikings is. Dis nie ’n moralistiese regulering nie, maar ’n bestaan van af­hank­likheid, deernis, sagmoedigheid, reinheid van hart, barmhartigheid, honger en dors na gereg­tig­heid, vrede en selfloosheid (Matt 5:3-12). Dit is nie net ’n fiksasie op die ewige lewe nie, maar ’n konink­ryks­lewe as voorspel tot die ewige koninkryk. Die vraag is dus: Waartoe moet mense volgens ons hulle bekeer? Wat is die Goeie Nuus? Hieroor moet ons hel­derheid hê. Die antwoord gaan klaarblyklik om meer as ’n klomp oortuigings. Dit gaan ook om ’n alternatiewe lewe.

Die tweede vlak waarop ons sal moet fokus as ons dink oor evangelisasie is ons patos vir diegene wat bui­te of op die drumpel van die geloofsgemeenskap leef. Ons begrip en respek vir ander se kontekste, oor­tui­gings en gewoontes mag deurslaggewend wees in ons omgang met hulle. Ons opregte betrokkenheid by die nood van mense, of dit nou hulle armoede, siek­tes, of vrese is, of wat ook al, gaan waarskynlik meer sê van die liefde van God as enigiets anders.

Die vraag is dus: Hoe skep ons ruimtes waarbinne ons deernis en omgee mense kan oortuig van die Goeie Nuus?

Laastens is ons eie etos van deurslag­ge­wende be­lang. Die integriteit van ons toewyding aan die leef van die Goeie Nuus is krities vir ons oortui­gingskrag. Die vraag is dus: Hoe beliggaam ons dit? Hieroor moet ons bid en dink en eerlik wees voor God.

Daar is ’n belangrike wederkerige wisselwerking tussen logos, patos en etos nodig om te oortuig. Terwyl ons oor ons missionale teologie diep nadink, sal ons weer moet dink oor die uitkoms wat ons wil bereik met ons getuienis na buite. ’n Windstilte in die groei van die kerk getuig van ’n diep gebrek aan begrip vir ons ware roeping om die goeie nuus met omgee en geloofwaardigheid te leef en te verkondig. Nu­we geloofsgewoontes is dalk nodig om ’n nuwe be­wus­syn van ons gestuurdheid te kweek.

Ons het meer werk as wat ons dalk besef.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.