Die kerk moet soos skuifspelde wees

Die gesprek oor vroue se rol in die kerk, veral in leierskap-posisies, word al dekades lank gevoer. Melanie Thirion (foto) is een van die helder stemme. Marileen Steyn berig.


Wanneer Melanie Thirion oor sake soos vroue­­leierskap in die kerk praat, is sy nie be­sig om oor iets oulik of inspirerend te praat wat sy in ’n boek gelees het nie.

Nee, sy praat oor en vanuit haar eie, sowel as talle ander vroue, se konkrete ervaring. 

Ná skool het Melanie jeugwerk by die Hugenote Kollege gaan studeer. In dié tyd het sy ook besef dat die Gereformeerde Kerk, waarin sy grootgeword het en wat sy lief het, nie plek vir vroue in hul leierskapstrukture het nie.

Dit was die begin. Sedertdien het Melanie op verskeie maniere in kontak gekom met verhale van uitgelewerdheid van vroue en meisies.

“Die Here het my, sonder dat ek dit besef het, gevorm en met my ge-journey tot waar ek vandag is,” sê sy. Van­dag is Melanie ’n missionale werker by die NG gemeente Kenridge, nadat sy van 2007 tot begin vanjaar ’n jeugwerker daar was. Sy dien ook op die Wes-Kaap­se mode­ratuur en sy is die voorsitter van die Wes-Kaap­se Sinode se Vrouege­spreks­groep.

Die Vrouegespreksgroep bestaan uit vroue uit ver­skil­lende bedieningskontekste wat binne ’n veilige ruim­te met mekaar gesels oor hul er­va­ringe in die kerk en bediening.

Die vroue, wat dominees, akademici en lidmate insluit, is ook besig om die Wes-Kaapse moderamen te help om oor vroue se leierskap in die kerk te dink.

28 jaar gelede is die eerste vrou in die NG Kerk ge­le­gitimeer. Tog is die NG Kerk se leierskap steeds gro­ten­deels manlik.

Melanie verduidelik dat hierdie wanbalans proble­maties is omdat missionaliteit vra dat die kerk ook haar boodskap beliggaam.

Hoe beliggaam die kerk die hoop wat sy bring aan die een uit elke vyf vroue wat deur hul lewensmaat mis­handel word? Hoe beliggaam die kerk hoop in ’n land waar slegs een uit elke 15 gevalle van seksuele mis­handeling aangemeld word en waar dié wat wel praat, geviktimiseer word?

Vir Melanie is die verteenwoordiging van vroue in kerklike leierskap ’n wyse waarop die kerk nie net oor die inklusiwiteit en sorg vir vroue hoef te praat nie, maar dit ook kan wys.

Die proses om vroue in leierskap in te sluit is egter gekompliseerd. Een van die grootste struikelblokke is die patriargale kultuur wat steeds sy kop in die kerk uitsteek.

Die tekens hiervan is egter dikwels subtiel. Dit sluit irritasie met gendergesprekke, advertensies vir poste wat geslag spesifiseer, uitsluitende taalgebruik en die normalisering van grotendeels manlike leierskap in.

“Die wortels van patriargie in die kerk lê dieper as wat ons graag wil erken,” verduidelik Melanie. “Dit is ingebed in ons Afrikanerkultuur.”

Om hierdie rede is struktuurverandering alleen nie genoeg nie, maar behoort kultuurverandering werklik ’n prioriteit te wees vir gemeentes, ringe en sinodes wat geslagsgelykheid wil bevorder.

Hoe kan hierdie patriargale kultuur egter verander word?

“Ons moet eers erken dat ons, man en vrou, ’n aan­deel het in die bevordering van hierdie kultuur, en dan moet ons verantwoordelikheid vir die verandering van die kultuur neem,” sê Melanie.

Om hierdie kultuurverandering te bewerkstellig, stel Melanie voor dat daar bewustelik gekyk word na die bevordering van inklusiewe taalgebruik en ge­spreks­temas.

So ook kan daar doelbewus diversiteit binne spanne en leierskap geskep word. Melanie maan egter dat die teenwoordigheid van ’n vrou nie outomaties beteken dat haar stem gehoor word nie en dat leierskap ook sensitief hiervoor moet wees.

Verder moet daar met respek na ander se ervaringe geluister word. Soos Melanie die Vrouegroep se waar­des tydens haar aanbieding by die Wes-Kaapse mo­de­ra­menvergadering verwoord het: “Luister. Luister dan nog ’n keer.”

Vroue in leierskap gaan egter oor meer as net be­sluit­neming. Dit gaan oor positiewe rolmodelle vir vroue en oor groter blootstelling aan die ander sodat daar em­patie vir mekaar se unieke ervaringe ontwikkel kan word.

Terwyl Melanie glo dat dit goed is wanneer die kerk reageer op vroue se weerloosheid en onderdrukking, voel sy ook dat die kerk primêr uit haar roeping vir een­heid moet reageer.

Daarom wil sy nie geslagte teen­oor mekaar posisio­neer nie, maar wel ’n oproep maak dat die kerk se een­heid oor geslagsgrense, versterk word.

“Die kerk moet soos skuifspelde wees, bereid om ge­buig en gevorm te word sodat ons mense bymekaar kan hou,” verduidelik sy.

Om hierdie skuifspelde te wees, vra egter meer as net drome. Dit vra aksie en waagmoed.

“Ek droom dat hierdie gesprekke nie meer oor 20 jaar nodig sal wees nie. Dat dit irrelevant sal wees. Kom ons wees dapper en getrou aan ons roeping. Kom ons werk met integriteit met die boodskap wat ons oor­dra. God is reeds besig. Kom ons sluit aan.”

– Op die Wes-Kaapse moderamenvergadering van 6-7 Maart 2018 is Marié Britz en Riana Furniss tot die Wes-Kaapse moderatuur verkies. By die volgende ver­ga­de­ring in Augustus sal die Vrouegroep, in sa­me­werking met Taakspan Regte, voorstelle oor vroueleierskap maak.