Skrywer wil geestelike leiers standvastig laat bly

BUILDING BELOW THE WATERLINE
Deur Gordon MacDonald
Uitgegee deur Hendrickson Publishers, LLC, 2001


Die outeur is ’n bekende prediker, spreker, leraar, skrywer en ’n geestelike begeleier vir geestelike leiers in die VSA. Die doel van die skrywer is om geestelike leiers te help om stand­vastig te bly in die bediening. 

’n Groot verskeidenheid sake wat elke leier en leraar beslis in hulle bediening teëkom en raak, word in twee afdelings behandel. Die innerlike en persoonlike, private lewe van die leraar en afdeling twee handel oor die uiterlike, publieke lewe van die leraar.

Waardevolle praktiese wenke word aan die hand gedoen. Sake wat aandag kry, is onder meer die persoonlike geestelike lewe, missie, visie, middeljarekrisisse, joernale, motiewe en motivering in die bediening, intimiteit, idealisme, ekstreme geloof, gebede, die teenwoordigheid van God, vertroue, rus en herstel van geestelike passie, private en aftye, selfdissipline en tyd, vriende en vyande, Skrifgefundeerdheid, publieke gebede, ontydige telefoonop­roepe, “vuil” werk, kennis van jou gemeente, moeilike tye, opstandigheid ens.

Building below the waterline is ’n boek waarby teologiese studente kan baat vind.    

Dit is ’n boek wat maar meer as een keer gelees kan word. Dit is ’n boek wat elke leraar en ander wat in diens van God staan gerus kan lees.

Dr Pieter Dorey is predikant van die Kruisgemeente in Hoedspruit.