‘Coach, my pa sê ek is useless’

Daar het ’n jong seun eendag langs die sokkerveld in Bellville onder sy blad kom inskuif en vir hom gesê: “Coach, my pa sê elke dag vir my hoe useless ek is.”

Só vertel Ben Marais, n NG predikant wat jare gelede die kansel vir die sportveld verruil het. En rugby vir sokker, omdat dit hom n universele taal gee om oor kultuurgrense heen te praat.

“Op daai oomblik het my hart regtig gebreek vir die seun. Ek het besluit, boeta, al is dit al wat jy twee keer per week by die oefening hoor, jy sal hoor jy hét waarde en jy is nie useless nie. Ek ken nie die konteks by die huis nie en blameer nie die pa nie, maar ek het n geleentheid om n surrogaat-pa te wees,” sê Ben.

Dié nasionale direkteur van Ambassadors Football SA (AFSA), n internasionale sokkerbediening, verduidelik navorsing toon dat een van die grootste uitdagings in die hedendaagse wêreld n gebrek aan vaderfigure en positiewe rolmodelle is.

Die gevolg is geweldsmisdade, dwelm- en drankmisbruik, tienerswangerskap en selfdood, het n studie deur die Amerikaanse Gesondheidsdepartement uitgewys.

Ben verduidelik: “God sê my waarde lê nie in wat ek doen nie, maar wie ek is. Ons probeer met liefde dit vir jong sokkerspelers wys. n Afrigter, man of vrou, is ideaal geposisioneer om n positiewe rolmodel te wees wat die vier rolle van n pa kan vervul. Ons kan morele outo-riteit vestig, identiteit en potensiaal vestig en sekuriteit gee.”

Juis daarom rig AFSA nie net laerskoolleerders af nie, maar ook afrigters om dié geleentheid te benut. Volgens Ben het hulle die afgelope 18 jaar sowat 4 000 afrigters in Suid-Afrika opgelei.

Dít is AFSA se manier om gemeenskapstransformasie in Suid-Afrika te bring.

Een van dié afrigters is n oud-bendeleier wat vandag met “potensiële bendeleiertjies” op die Kaapse Vlakte werk. Ben vertel dié jong man het by AFSA se sokkerakademie by die Drakenstein-gevangenis in die Boland tot bekering gekom. Sy liefde vir God én sokker het hom genoop om nou daar waar hý grootgeword het, n verskil te maak.

Ben Marais op die sportveld aan die gesels met die seuns vir wie hy ’n vaderfiguur is. Foto’s: Rahel Hagemeier

Ben sê hy en Joseph Jacobs, n VGK-lidmaat, vat die afgelope sewe jaar hande met die Kommissie vir Gesamentlike Getuienisaksie (KGA) in die Wes-Kaap.

Die doel van Sport- en Spelbediening is om gemeentes wat n behoefte aan sportbediening in hulle gemeente het, te gaan konsulteer.

Ben verduidelik: “Ons wil gaan hoor watter uitdagings het die gemeentes en wat moontlik die oorsprong kan wees. Geweld in die gemeenskap kan tipies die gevolg van vaderloosheid wees. Ons funksie sal dan wees om gemeentelede as afrigters te gaan oplei of toe te rus wat dan surrogaatpa’s in die gemeenskap kan wees.”

Ben vertel dat gemeentes hulle dikwels kontak om sportgeleenthede by gemeentes te kom aanbied, maar hulle het nie die kapasiteit hiervoor nie.

“Dit is ongelukkig ook nie n langtermynoplossing vir die probleem in die gemeenskap nie. Deur afrigters op te lei plaas ons pa-figure of dissipelmakers in die gemeenskap.”

Vir meer inligting besoek www.ambassadorsfootball.org/za of kontak Ben Marais by bmarais@ambassadorsfootball.org.za indien jy belangstel in n konsultasie by jou gemeente.