Die gelowige se seksualiteit

Isabel Ballot van Pretoria skryf:

Een van die mees interessante debatte wat in Kerkbode gevoer word, is dié oor gaywees. Ek het besluit om ’n skamele bydrae te lewer. Die debat gaan onder andere oor of die uiting van die seksuele in die gay gelowige se lewe regverdigbaar is en of die kerk verwag dat hy of sy in onthouding moet leef om volledig lidmaat te wees en in sommige gevalle tot die kansel toegelaat te word.

Die debat kan nie gevoer word sonder om daarna in die breër konteks van menslike seksualiteit te kyk nie. Die behoeftes van die meeste gays, glo ek, is ook dié van die meeste heteroseksuele: aan ’n lewensmaat, en/of vriend. Sommige mense lewe selibaat, maar die oorgrote meerderheid is nie in staat daartoe nie.

Die vraag is: Hoe hanteer die gelowige sy of haar seksualiteit? God is absoluut geïnteresseerd in sy kinders se seksualiteit, soos ook in ander areas van hulle lewe. Ons hele menswees is sy saak. Ons moet ons voortdurend afvra of ons vennootskappe, homoseksueel of heteroseksueel, vir God tevrede stel.

Die huwelik is onder enorme druk, maar steeds God se unieke instelling. So is enige ander verhouding oneindig minder as ’n afskynsel van dié heilige instelling van God.