Dis nie ’n siekte om gay te wees nie

Verskille in seksuele en genderoriëntasie behoort deel te wees van ’n normale verskeidenheid in die oë van sielkundiges.

Dit blyk uit riglyne wat die Sielkundevereniging van Suid-Afrika, die oudste en mees verteenwoordigende vakvereniging van sielkundiges in die land, onlangs uitgereik het vir wanneer sielkundiges werk met gay, lesbiese en ander seksueel- en gender-diverse mense.

Prof Juan Nel, navosingsprofessor aan Unisa en gewese president van die vereniging, sê hulle aanvaar dat seksuele diversiteit (byvoorbeeld die voorkoms van homoseksualiteit) nie patologie behels nie. Dit is nie ’n siekte om gay te wees nie.

Die riglyne is gebaseer op die “mees op-datum navorsing en ons mees in-diepte huidige verstaan, globaal en plaaslik”, konstateer die riglyndokument. Dit sluit aan by die werk van sielkunde-organisasies in lande soos die VSA, Brittanje en Australië.

Nel sê die riglyne is primêr vir sielkundiges bedoel, maar ander velde, soos die mediese wetenskap, neem reeds kennis daarvan. Hy meen daar is ook ’n groot stuk relevansie vir die kerk daarin om kennis te neem van hoe die sielkunde dink.

Onderliggend aan die riglyne vir sielkundiges is ’n posisie wat die Sielkundevereniging reeds in dié verband in 2013 ingeneem het: om geen skade te doen nie. Dié benadering is ook vervat in wetgewing vir mense in die gesondheidsprofessies.

Volgens Nel resoneer dié benadering met dié gedeelte in Romeine 13 wat oor die liefde handel. Vers 10 sê byvoorbeeld: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”

Nel sê die sielkunde se benadering is om vir mense ’n veilige plek te bied waarbinne hulle hulle eie identiteit kan vind. As iemand aanvaarding en liefde beleef, is dit ’n bevestiging van hulle menswees.

Hy meen ook dat geloof  ’n belangrike helende rol te speel het. Sy advies aan kerke is om maniere te vind om seksuele minderhede in te sluit. “Werk saam met hulle eerder as teen hulle,” sê hy.

Die gevoel van verwerping wat minderhede soms kry, en die internalisering van ’n klomp negatiewe ge­voelens daarmee saam, doen egter skade. Ook die kerk doen skade deur uitsluiting.

Oor die gedagte dat onderskeid getref word tussen iemand se seksuele oriëntasie en gedrag, sodat die oriëntasie aanvaarbaar kan wees maar die gedrag nie, gebruik Nel woorde soos “ondoenbaar” en “onmenslik”. So ’n benadering doen skade en dit maak siek.

Dít, sê Nel, is nie net sy eie siening nie. Dit is die perspektief van die sielkunde.

Solank jy sê “Ek aanvaar jou maar jy mag nie ’n gay verhouding handhaaf nie,” is die aanvaarding voorwaardelik, sê Nel. Daar is ’n implisiete verwerping in.

Die in- of uitsluiting deur die kerk is een van die mees sentrale temas waarmee baie gay mense worstel, veral vroeg in hulle soeke na hul eie identiteit. Dan gebeur dit dikwels dat mense die kerk verwerp omdat hulle voel dat die kerk hulle verwerp.

Oor die NG Kerk se 2016-besluite teen gay verhoudinge, sê Nel bloot uit sy ervaring met mense meen hy dat die sinodebesluite “ongetwyfeld” baie mense geweld aan gedoen het.