Daar is meer as een manier om saam te sing

Missionale kerkwees het die laaste tyd die groot diskoers in die NG Kerk geword. Dieter de Bruin vra of daar ruimte is om ook uit ander invalshoeke oor kerkwees te praat.


Thuma Mina! Stuur my!” het pres Cyril Ramaphosa gebid aan die einde van sy staatsrede.  Daar is min mense van wel-willendheid wat nie met iets van hierdie oproep van die president kon resoneer nie. Die NG Kerk leef ook met hierdie gebed, onder meer in Lied 533 van die Liedboek van die kerk. Ons is ’n gestuurde kerk.

Ek sing graag saam met die missionale lied en is self diep gevorm deur missionale vriende, maar êrens het ek ongemaklik begin saam sing. Hier probeer ek iets van my ongemak verwoord in ’n poging om ook die gesprek te verryk.

“Ons” en “hulle”

Ek beleef tog iets van ’n “ons” wat inkoop op die missionale denke en die “res” van die kerk wat oortuig moet word om met hierdie teologie belyn te word. Die woord “missionaal” het ’n sjibbolet geword. Daar is mense wat hierdie taal verstaan en die natuurlike aksent praat, en daar is nog ander wat oortuig moet word om hierdie taal en gepaardgaande lewenswyse aan te leer.

Natuurlik sal mense en groepe diep oortuigings wil deel en ander wil beïnvloed. (Ek is ’n pyn daar-mee!)

My bekommernis is dat die res wat nog nie dáár is nie, nie noodwendig op die verkeerde plek is nie, maar dalk ’n ander taal praat wat op ’n ander manier ook nader aan die hart van kerkwees wil beweeg. Ek sou byvoorbeeld baie meer daarvan gehou het as ons gekies het om van sakramentele kerkwees te praat, maar nou ja …

Die meestergesprek

My ongemak laat my dink aan wat die filosoof
Michael Oakeshott in sy boek On human conduct te sê gehad het oor die verskil tussen die samelewingsvorme van burgerlike assosiasies en ondernemingsassosiasies. 

In ondernemingsassosiasies kom mense byme-kaar met ’n gedeelde doelwit. Die weermag het die enkele doelwit om die vyand te verslaan. Besighede het die doel om ’n wins te maak.

In burgerlike assosiasies is daar groter vryheid om verskillende doelwitte na te streef.

Die kerk sou natuurlik soos ’n ondernemings-assosiasie kan funksioneer. In lyn met die Algemene Sinodale Moderamen se belangrike prioriteit sou ’n mens kon sê dat die onderneming van die NG Kerk tans is dat “die kerk sy selfverstaan en sy doen en late belyn” met missionale teologie.

Ek wonder of daar nie ruimte kan wees om die huidige “onderneming” van die kerk om missionaal te transformeer te temper met ’n element van burgerlike assosiasie nie. Dit sou beteken dat daar nie net een kollektiewe doelwit aan almal voorgeskryf word nie.

Om te praat van ’n arbitrêre imposisie van missionale teologie op alles en almal in die kerk
is te sterk gestel, maar dit bekommer my dat die taal- en verwysingsraamwerk van missionaliteit die horison moet word waarbinne ál die gesprekke in die kerk gevoer moet word en waaraan dit beoordeel moet word.

Leë dop

Ofskoon dit prysenswaardig is vir die kerk om ’n gedeelde fokus te hê, kan daar ook gevra word of ’n konsep soos missionale kerkwees enersyds groot genoeg, maar andersyds ook duidelik genoeg is om as oorkoepelende doelwit te dien.

Veral gegewe die feit dat (soos gebeur met baie woorde wat nuut geskep word om insigte saam te vat en te kommunikeer) die neologisme van missio-naliteit byna geyk en betekenisloos geraak het. 

Dit omvat alles en ook niks en word dikwels as ’n regverdigende of afwysende troefkaart gebruik. 

Tekenend vir my van die ontrafeling van die betekenisveld van die woord, is die teenstrydige teologiese projekte wat aangebied word as missionale voorbeelde om na te volg. 

Een voorbeeld: Aan die een kant speel die bykans anti-institusionele verstaan van die kerk van Alan Hirsch ’n groot rol in die NG Kerk se nadenke oor missionale kerkwees. Aan die ander kant word die filosofie van James KA Smith
(wat sterk glo in instellings en die institusionele aard van die kerk) ook aangebied as die model
vir missionale geloofsvorming. Dit sonder om die spanning en teenstrydigheid tussen die twee te verreken.

Dit sal dalk sinvol wees om ’n gesprek te voer oor of die denke en voorveronderstellings en die lees van die geskiedenis en kultuur van iemand soos Hirsch die kerk moet informeer, en of iemand soos Smith se denke dit moet doen. 

Die vraag is nie óf ons moet transformeer nie, maar hoe en in watter rigting.

Verskille

Daar is, en word sterk standpunt ingeneem oor die missionale aard van die kerk.

Die gevaar bestaan egter dat die gesprek in ’n ideologie verval sodat niks wat onder die vaandel van missionaliteit aangebied word, meer bevraag-teken kan word nie. 

Om grondige kritiese vrae te vra oor ontwikke­linge soos die “vars uitdrukkings van kerkwees” en die inrigting van teologiese opleiding is nie om ten gunste van “instandhouding” van die kerk of teen koninkryksdenke te wees nie. So ook nie struk-turering van die ampte na lyn van ’n sekere lees van missionale denke, of om selfs te protesteer teen die eksklusiewe gebruik van hierdie taalbron en praktyke nie.

Ander note

Daar is mense met welwillendheid in die NG Kerk wat op ’n ander manier oor kerkwees sing. Hulle eerste taal is nie “missionaal” nie. Dit sal die kerk verryk om na hierdie klanke ook te luister en dit deel van die kerk se lied te maak.

– Dr Dieter de Bruin is predikant van die NG gemeente Pretoria.