‘Ek verstaan dit nou beter’

SITTING PRETTY, WHITE AFRIKAANS WOMEN IN POSTAPARTHEID SOUTH AFRICA
Christi van der Westhuizen
(UKZN Press, 2017)


Die ontwrigting wat die einde van apartheid vir my as wit Afrikaanse vrou meegebring het in terme van my identiteit, veral ook as Christen en lidmaat van die NG Kerk, was geweldig. Ek was bevoordeel deur Afrikaner-nasionalisme en apartheid en terselfdertyd radikaal ondermyn deur geslagsgebaseerde onderdrukking.

Ai, hoeveel meer lig werp Christi van der Westhuizen se boek (’n verwerking van haar doktorale verhandeling in sosiologie) nie op my persoonlike worstelinge nie! Haar vraag is: Benut wit Afrikaanse vroue die oomblik van ontwrigting wat die einde van apartheid gebring het om ons te bevry van die dekmantel waaronder Suid-Afrikaanse rassisme en heteropatriargie verskuil was? Benut ons hierdie moment om selfkennis te kweek ten opsigte van diegene wat die “ander” verteenwoordig as gevol van ras, geslag en seksualiteit en in die proses onsself te transformeer?

Christi gebruik diskoersanalise vir gesprekke met heteroseksuele, middelklas-, wit, Afrikaans-sprekende vroue asook ’n jaar se uitgawes van Sarie om bogenoemde vrae te ondersoek.

Hiervolgens is die wit Afrikaanse vrou se reaksie op die ontwrigting van demokratisering die herwinning van “ordentlikheid” in die aangesig van die morele dilemma waarin hulle beland het. Ordentlikheid word hoofsaaklik verkry deur te voldoen aan spesifieke norme ten opsigte van vroulikheid, heteroseksualiteit, witheid en middel-klasheid.

Die “Volksmoeder-identiteitsprojek”, wat sentraal gestaan het voor demokrasie, word saam met die “ordentlikheidsprojek” ondersoek. Sy wys op die volksmoeder se ingesteldheid op “silence, service and white sex” en vra dan ook hoe wit Afrikaanse manlikheid hierdeur geraak word. Baie interessant – lees gerus!

Christi se filosofiese en teoretiese hantering van die interseksionaliteit tussen ras, gender, seksualiteit en klas is briljant. Ek het ook haar refleksies
op die invloed van post-feminisme, neo-liberalisme, individualisme en die verbruikerskultuur insiggewend gevind.

In die slothoofstuk beklemtoon Christi ’n oortuiging wat ek al lankal baie sterk huldig, naamlik dat “acknowledged shame” (onderskeibaar van “un-acknowledged shame”) die sleutel is tot transformasie.

Solank ons blind bly vir die oortuigings wat ons as vanselfsprekend aanvaar omdat dit versterk word binne ons eksklusiewe ruimtes, sal ons dit moeilik vind om, in navolging van Christus, die kultuur van die dag uit te daag deur alle mense gelykwaardig te ag en te behandel. Ek verstaan dit nou nog beter.

▶ Dr Elize Morkel is voorsitter van die NG Kerkfamilie se Taakspan vir die Seisoen van Menswaardigheid.