10 vrae aan Louis Jonker

Louis Jonker, professor in Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch, is vanjaar die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir sy boek, Defining All-Israel in Chronicles, uitgegee deur Mohr Siebeck. Frits Gaum het met hom gesels.


1 Waarom het jy die Ou Testament as jou vakrigting gekies, Louis?

Ek is tydens my Stellenbosse studiejare geïnspireer deur leermeesters by die Departement Semitiese Tale (nou Antieke Studie) wat my belangstelling in die Ou Testament geprikkel het met hulle eie entoesiasme vir die vak. Verder was dit ook beslissend dat ek in 1981 op ’n opgrawingstoer na die Stad van Dawid, Jerusalem in Israel, gegaan het. Deelname aan daardie opgrawings het my laat besef dat ’n mens nie die Bybel kan lees en verstaan as ’n mens nie ook iets weet van die wêreld waarin dit ontstaan het nie.

2 Jou wenboek handel oor “all-Israel” in die Ou-Testamentiese boek Kronieke. Wat word met dié term bedoel?

Die Hebreeuse uitdrukking kol-yisrael, oftewel “die hele Israel”, kom baie gereeld in Kronieke voor. Hierdie term is gebruik vir ’n nuwe verstaan van wie Israel in die na-ballingskapstyd was. Voor die ballingskap was daar die twee koninkryke van Juda en Israel, maar na die ballingskap was daar teruggekeerde ballinge wat saam met diegene wat nooit in ballingskap wegge­­voer was nie, hulleself in ’n nuwe sosio-politieke omgewing moes probeer terugvind. Die uitdrukking “die hele Israel” word dan ’n soort afkorting om te verwys na die identiteit van die “nuwe” naballingskapse Israel, gegrondves in hulle verering van Jahwe (die Here) in die kultiese saamwees in die herboude tempel in Jerusalem.

3 Waarom is die boek Kronieke nog vir ’n hedendaagse Bybelleser aktueel?

As ’n mens iets wil weet van hoe die Here se volk in veranderde en veranderende sosio-politieke en sosio-godsdienstige omstandighede ’n nuwe identiteit as volk van God gesoek het, moet jy Kronieke lees! Eers was die brandende vraag: “Waarom het ons die beloofde land verloor?” en daarna ’n nuwe vraag: “Hoe kan ons nog volk van God wees te midde van die nuwe sosio-politieke en sosio-godsdienstige omstandighede waarin ’n diversiteit van volkere en godsdienste ook tuishoort?” Klink dit dalk bekend? Kronieke het waarde vir die hedendaagse leser in Suid-Afrika omdat dit aandui hoe God se volk hulle nuwe identiteit gevind het in aansluiting by die historiese tradisies van die verlede, maar ook deur middel van ’n nuwe posisionering in ’n nuwe wêreld. Soos ons as kerk in die hedendaagse Suid-Afrika moet doen!

4 Mense soos Richard Dawkins skryf uitgebreid oor die wrede Jahwe van die Ou Testament. Hoe versoen ’n mens die Ou-Testamentiese Jahwe met die Nuwe-Testamentiese Here?

Om die Ou Testament slegs met ’n wrede God te assosieer, dui op ’n oppervlakkige en slegte lees van die Ou Testament. Ek stem dus nie met Dawkins saam nie. Dit is uiteraard so dat die taal en voorstellings waarin God aan ons in die Ou Testament bekend gemaak word, gedrenk is in die wêreld van die Ou Nabye Ooste. En ons sal uiteraard heelwat dinge nie meer op so ’n manier beskryf nie – ook nie vir God nie. Maar as ’n mens dieper lees, kom jy agter dat die sogenaamde wrede God van die Ou Testament die Here is wat alles feil het vir sy volk, wat hulle beskerm en bewaar, wat hulle lewensruimte en lewensmiddele gee. Agter daardie skynbaar wrede beeld van God, skuil die liefdevolle en versorgende God. Dis ’n God wat nie baie anders lyk as die Een wat die Nuwe Testament aan ons voorstel nie. Elke tydvak se gelowiges word uitgedaag om weer in hulle eie taal en met hulle eie voorstel­lingswêreld nuut oor God te praat.

5 Dit is onder andere deur jou toedoen dat die standbeeld van prof Johannes du Plessis (“Pienk Piet” vir die studente) na ’n jarelange swerftog teruggebring is na die tuin van die Stellenbosse Teologiese Fakulteit en nou ’n prominente plek daar inneem. Du Plessis was in sy leeftyd ’n baie omstrede figuur in die NG Kerk. Wat sê jy vandag, 83 jaar na sy dood, oor sy teologie
wat die NG Kerk destyds geskud het?

Prof Du Plessis was ’n goeie Bybelwetenskaplike wat sy studente in die 1920’s die gangbare metodes van Bybel­­uitleg van sy tyd wou leer. Die invloed van sekere rigtings uit Nederland, en veral die destydse fundamentalisme van Princeton in Amerika, het egter die kerklike leiers en predikante van die NG Kerk veel enger oor die uitleg van die Bybel laat dink. Dit is te verstane, want gedurende die Depressiejare en vanweë die nagevolge van die Anglo-Boere-oorlog, was Afrikaanse kerkmense op soek na vastighede en sekerhede. Die letterlike interpretasietradisie van die fundamentalisme het aan sulke mense ’n houvas gegee om “ewige waarhede” in die Bybel te vind. Die Du Plessis-saak en die nadraai daarvan het daartoe gelei dat hierdie enger interpretasietradisie daarna nog méér oorheersend in die NG Kerk geword het. Dit is eers sedert die 1970’s dat Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes regtig weer blootgestel is aan die ontwikkelinge in hulle studieveld elders in die wêreld. Die ontworsteling uit die enger interpretasietradisie het egter nie deurgewerk na die breër “kerkvolk” nie, want hierdie wetenskaplike bestudering van die Bybel het onder andere die heersende apartheidsteologie begin kritiseer. Dit is nie geduld nie!

6 Jy was in ’n stadium, amper soos Du Plessis, op die rooi tapyt vir van jou teologiese standpunte. Hoe het jy die kerk se hantering daarvan beleef?

Dit was vir my ’n baie slegte ervaring! Ek is in die 1990’s deur ’n lidmaat van die gemeente waar ek toe predikant was, aangekla van kettery nadat ek ’n reeks oor Genesis 1 – 11 by ons aanddienste aangebied het. Die betrokke persoon het gemeen dat ek kettery
gepleeg het deur nie toe te gee dat daar wél ’n wêreldwye vloed was, of dat Noag noodwendig ’n historiese persoon was nie. Hy was oortuig dat ’n mens wel die historisiteit van elke greintjie inligting in die Bybel moes bevestig, anders verloën ’n mens dit as Woord van God. Die Ring van Stellenbosch het my onskuldig bevind, maar die aanklaer het toe na die Wes-Kaapse Sinode geappelleer. Daardie proses was vir my baie sleg. Die aanklaer is deur die Regskommissie van die destydse sinode volledig kans gegee om sy standpunte te kom stel en op skrif beskikbaar te maak aan die sinode. Toe ek navraag gedoen het waarom ek dan nie geleentheid kry om ook my standpunte uiteen te sit nie, is aan my gesê dat ek nie meer ’n party in die geskil was nie, want dit het nou om ’n appèl teen die besluit van die Ring van Stellenbosch gehandel. Ek kon eenvoudig nie verstaan hoe die NG Kerk so wreed kon wees om oor my loopbaan en oortuigings ’n uitspraak te maak sonder om myself ook aan te hoor nie. Uiteindelik het die sinode besluit om nie die appèl te handhaaf nie, en is ek ook daardeur vrygespreek. Wat my egter tot in my diepste wese seergemaak het, was om te hoor hoe ’n hele klomp sinodegangers – soos die aanklaer van vroeër – my geloofsintegriteit bevraag­teken het op grond van my wyse van Bybelinterpretasie. Daardie seer sit nou nog in my. En ek onthou die moment toe wyle oom Kenney O’Kennedy, ouderling-afgevaardigde van die gemeente waar ek predikant was, ná die uitspraak opgestaan het om oor my geloofs­integriteit te getuig. Oom Kenney het ’n ewige plek in my hart!

7 Die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch het die laaste dekade of twee in baie opsigte ’n transformasie ondergaan. In watter opsigte was dit ten goede?

Sedert 2000 vind die opleiding van die VGK se aspirant-predikante ook by die fakulteit plaas. Dit was ’n absolute skeidingspunt in die bestaan van die instelling. Daarsonder sou ons steeds dominees opgelei het wat nie blootgestel word aan ’n diversiteit van standpunte en perspektiewe nie, en sou ons nie ’n ekumeniese fakulteit gewees het nie. Sedertdien het nog ander kerklike vennote by ons aangesluit, en elkeen van hulle help om ons perspektiewe te verbreed. Trouens, vir die soort interpretasieraamwerk wat ek met betrekking tot die Bybel voorstaan, is dit noodwendig dat ons moet leer hoe om in gesprek te tree met ander – selfs die radikale ander. Daar word nou teoloë by die fakulteit opgelei wat in die toekoms van die kerk in ons land ’n belangrike rol sal kan speel.

8 Jy neem ook deel aan die debatte binne die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings. Waarom doen jy dit?

My deelname aan hierdie debatte sluit ten nouste aan by die soort interpretasieraamwerk wat ek belangrik ag vir die Bybel. Wanneer ons die Bybel sou lees sonder om enigsins in ag te neem in watter soort wêreld die Bybeltekste tot stand gekom het, kan ons baie oppervlakkige interpretasies vir ons eie tyd maak. Die debat rondom homoseksualiteit het my daarvan bewus gemaak dat die Bybel dikwels baie oppervlakkig hanteer word. Ek sien my rol dus om in die debat inligting te voorsien oor die wêrelde waarin die Bybeltekste ontstaan het sodat meer ingeligte interpretasies daaroor gemaak kan word. Ek wys byvoorbeeld uit dat die woord “homoseksualiteit” soos dit in die 1983-vertaling voorkom, nêrens in die grondtekste voorkom nie, en dat ’n totaal ander sosio-kulturele verstaan daardie tekste help bepaal het. Sonder om die historiese dimensie van Bybelinterpretasie in ag te neem, kan ons enigiets met die Bybel bewys, en kan ons mense geweld aandoen (soos ons dit reeds in die apartheidsera gedoen het).

9 Het jy hoop vir die NG Kerk … en vir Suid-Afrika?

Ja, ek het hoop vir die NG Kerk. Dis allermins ’n kerk sonder foute. Maar dis ten minste ’n kerk wat bereid is om sondes te bely, en om nuut te gaan leef in ’n nuwe tydvak en ook van nuuts af oor Bybelse hermeneutiek (die interpretasie/verstaan van die Bybel) na te dink. Ek vind ook ’n nuwe openheid teenoor die dinge wat ek sê en skryf (wat ná die gebeure van die jare ’90 nie daar was nie). Ek het moed vir die NG Kerk wanneer dominees hulle rol as hermeneutiese fasiliteerders met kundigheid en deeglikheid begin speel. En vir Suid-Afrika? Ons land was op ’n afgrond as gevolg van die Zuma-era. Helaas is ek nie seker of daardie era al
verby is nie, en ons sal as kerke en gelowiges ook ’n nuwe president en politieke leierskap aan hoë morele maatstawwe moet bly meet. Ons is steeds aan die worstel oor wat dit beteken om gelowiges in ’n Nuwe Suid-Afrika te wees. Dalk is Kronieke ’n baie gepaste boek vir ons tyd?

10 Waaraan werk jy nou?   

Ek het ’n groot opdrag gekry om ’n Kronieke-kommentaar in die volgende agt jaar te skryf vir een van die invloedryke reekse, Old Testament Library, wat in Amerika gepubliseer word. Verder is ek gekontrakteer as een van ’n span internasionale medewerkers om ’n beoordeling te maak van die vakkundige onderskeidings wat die huidige New Revised Standard Version-Bybelvertaling bepaal het. Dit word gedoen met die oog op ’n nuwe vertaling. Derdens het ’n opwindende fase vir my en ’n span kollegas aangebreek toe ons ’n navorsingstoekenning gekry het om ’n “Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures” in die volgende drie jaar op die kampus te vestig. Hierdie sentrum sal onder meer bydra tot gesprek oor en tussen die gesaghebbende Skrifte van die drie godsdiens-tradisies wat in die Wes-Kaap (en Suid-Afrika) dominant is, naamlik die Christendom, Islam, en Jodendom. En vierdens – en dit gee my dalk die meeste plesier – is ek besig om ’n meer populêre boek in Afrikaans te skryf oor enkele momente uit die geskiedenis van Bybelinterpretasie in Suid-Afrika. Ek hoop dat die prys wat ek nou met die Kronieke-boek gewen het, sal help dat ek darem ’n uitgewer vir daardie boek sal vind!