Die kerk moet verstaan wie God is …

Dr Lourens Bosman is sedert begin Februarie die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode. Hy behartig die praktiese bestuur van die kantoor, maar sy hooftaak is om missionale kerkwees in die NG Kerk te bevorder. Neels Jackson het met hom daaroor gesels.


Die Algemene Sinodale Moderamen het besluit dat missionale kerkwees die hoofsaak moet wees waarop die NG Kerk nou moet fokus.

Maar waarvan praat hulle as hulle van “missionale kerkwees” praat? Dr Lourens Bosman hoor dié vraag dikwels.

Dr Lourens Bosman is sedert begin Februarie die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode. Hy behartig die praktiese bestuur van die kantoor, maar sy hooftaak is om missionale kerkwees in die NG Kerk te bevorder. Neels Jackson het met hom daaroor gesels.

Hy meen die groot gevaar met dié term is dat dit n leë gonswoord word wat deur almal gebruik word sonder dat daar n helder verstaan is van wat daarmee bedoel word.

Hy verstaan hoekom daar onduidelikheid daaroor is. Dis omdat dit die kerk se bestaan so diep raak. Dit is nie n klein verandering waarvan daar gepraat word nie. Dit gaan hier oor n diep kultuurverandering.

Daar is diepgewortelde gewoontes wat moet verander. Dit raak die liturgie van die eredienste, hoe ons ons kinders grootmaak, hoe ons die Bybel lees, hoe ons betrokke is by die wêreld om ons. Dit gaan oor die manier waarop die kerk in hierdie wêreld leef.

Terwyl die herfsson skuins deur een van die vensters van sy kantoor val, val Lourens homself in die rede: “Ek wens dit was onnodig om te praat van n ‘missionale kerk’,” sê hy. “Om te praat van n missio­nale kerk’, is soos om te praat van n ‘vroulike ma’. Dis onnodig om te sê: n ‘vroulike ma’. n Ma is tog per definisie vroulik. Net so is die kerk per definisie gestuur.”

As ons verstaan het wie God is, en waarvoor God ons roep, sou dit nie nodig wees om n term soos “missionale kerk” te gebruik nie.

God roep ons nie net om hemel toe te gaan nie, sê Lourens. God roep ons om kerk te wees in die wêreld.

Hy verduidelik dat daar vier groot bewegings is: God roep ons; God versamel ons; God vorm ons; en God stuur ons.

Om dít te verstaan, is dit in die eerste plek belangrik om te verstaan wie God is.

Lourens sê hy hoor soms mense sê dat die kerk in die eerste plek daar is tot eer van God.

Ja, maar dan moet ons mooi verstaan dat dit nie net n geval is van God is in die hemel en Hy word verheerlik deur die lofliedere wat ons sing nie.

Hierdie wêreld is God se wêreld. En as hy dit in een sin moet sê, sal hy dit só formuleer, sê Lourens: “Die liefdevolle, sturende, besorgde, reddende God word verheerlik as sy kerk lyk soos God lyk.”

Die rits byvoeglike naamwoorde – liefdevol, sturend, besorg, reddend – wat hy gebruik om God te beskryf, sê reeds hoe die kerk moet lyk: liefdevol, ge­stuur, besorg, reddend.

’n Ander manier om dit te sê, is om te sê God lyk soos Jesus. “Om God te verstaan, moet jy Jesus verstaan,” sê Lourens. As Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle,” dan moet ons gaan kyk wat Jesus doen.

En wat doen Jesus? Hy gee Homself prys. Hy gaan oor grense. Hy maak gesond. Hy verlos. Dít is wat die kerk ook moet doen.

Dié soort eienskappe is eintlik per definisie deel van die kerk, maar ongelukkig het iets mettertyd verlore gegaan, sodat die kerk al meer na binne gekeer geraak het, ingestel op homself, op instandhouding, selfversorging, selfhandhawing en oorlewing.

Wat herwin moet word, is n heropneem van die gestuurde roeping van die kerk.

Maar waarom dan die nuwe woord “missionaal” en nie die gevestigde woord “missionêr” nie?

Die probleem is dat die woord “missionêr” lank só gebruik is dat dit dui op n projek van die gemeente wat doer ver gebeur en waarby n klein groepie entoesiaste betrokke was. Met “missionaal” wil die kerk sê dat God se roeping iets holisties is. Dit raak elke lidmaat. Dit gaan oor n manier van leef.

En waar trek die NG Kerk hiermee?

Op verskillende plekke, sê Lourens.

Hy dink die kerk het baie gegroei op die vlak van bewusmaking. Daarom dat hy al meer die versoek van gemeentes se kant af hoor dat die breër kerk hulle moet help met die hoe.

Op sinodale vlak, sê Lourens, is daar n sterk momentum van leiers wat gemeentes wil help. Want dit is waar missionale kerkwees moet gebeur, in gemeentes. Die Algemene Sinode se rol is ondersteunend. Kerkwees gebeur in gemeentes.

Lourens is vol lof vir die predikante van die NG Kerk. Die NG Kerk het uitnemende predikante, sê hy. Hulle is goeie teoloë. En die predikante wat betrokke is by sinodale werk, help om n poel van kennis te skep waaruit gemeentes uiteindelik kan put.

Hy is opgewonde oor n projek waarmee hulle besig is om n proseshandleiding vir gemeentes op te stel.

Maar omdat dit gaan oor n kultuurverandering wat in die kerk moet kom, weet hy dit gaan nie gou gebeur nie. Daarom, sê Lourens, moet die leiers wat die kerk op dié koers help lei, taai wees.