‘Ek smag na ’n NG Kerk waar almal welkom is’

Daar word dikwels met my generasie (die millennials) gespot omdat ons grootgemaak is om te glo dat “almal wenners is” en dat ons “enige en alle drome kan bereik”. Ek, soos meeste van my skoolmaats, is geleer dat ons die potensiaal het om “die wêreld te verander”.

So het ek op skool keer op keer wanneer iemand sou vra: “Wat wil jy eendag doen?” myself – en ander in my portuurgroep – hoor antwoord: “Ek wil ’n verskil maak in die wêreld.” Wat daardie verskil was, hoe ons dit sou doen en waarom, dink ek nie enige van ons het werklik geweet nie, maar dat dit ons lot was, was seker.

Vir sommige mag dit dalk na ’n naïewe lewensuitkyk klink. Ander beskou ons generasie as eiegeregtig en ongeduldig. Ek dink dit is waarskynlik juis daardie eiegeregtigheid en ongeduld wat veroorsaak dat ons nie sommer tevrede is met die status quo nie; dat ons werklik glo dat ons verandering teweeg kan bring en enigiets kan bereik waaroor ons droom.

Terselfdertyd is ons ook die generasie wat grootgeword het in – wat toe bekend gestaan het as – “die nuwe Suid-Afrika”, ’n land waarin almal (veronderstel was om) gelyke regte (te) geniet.

Ons is vertel dat ons die toekoms van hierdie land (en die kerk) is; die kinders van die reënboognasie. My lewe lank word ek geleer by die skool, die huis en die kerk dat diskriminasie en uitsluiting verkeerd is en dat ons die weg van integrasie, insluiting en omarming volg – die weg van Jesus.

En tog, wanneer ek vandag nog by meeste NG kerke instap, vind ek daar die mees homogene groepe mense bymekaar. Terwyl alles van my opvoeding tot die evangelie waarin ek glo, tot my diepste hartsverlange vir my sê dat dit nie is hoe dit veronderstel is om te wees nie.

Ek smag na ’n NG Kerk waarin enige en alle liggame welkom voel. Ek droom van ’n NG Kerk waarin mense van ’n verskeidenheid rasse en kulture, maar verder ook seksuele oriëntasies, genders en liggaamlike vermoëns waarlik deel vóél; ’n NG Kerk wat nie net sê “almal is welkom” of ’n “seisoen van menswaardigheid” aankondig nie, maar waarin dit ’n werklikheid is – in amptelike besluite en strukture, sowel as die lewe en werk van die kerk.

Ek verlang na ’n NG Kerk waarin ek kan Bybel lees, aanbid en dien saam met mense wat totaal anders is as ek, juis omdat ek glo dit is waar en hoe ek die meeste van God leer.

Miskien is dit juis die eiegeregtige, ongeduldige, naïewe millennial in my wat glo dat dit moontlik is; wat tog geseën is met “genoeg dwaasheid om te glo dat (ons) ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat (ons) dinge kan doen wat ander glo nie gedoen kan word nie.”

Miskien is dit juis waarom ek kan aanhou droom oor, glo in en myself beywer vir so ’n kerk.

Ds Bianca Botha is verbonde aan die NG gemeente Kaapstad en lid van die Jong Volwasse Leergemeenskap van die Wes-Kaapse Sinode.