Is die kerk te wit?

Is die kerk te wit? Dis ’n vraag wat ’n mens in Suid-Afrika verwag. Maar toenemend word dit ook in die Protestantse Kerk in Nederland – die NG Kerk se susterkerk in dié land – gestel. Leopold Scholtz berig.


Nederland is geen etnies homogene – wit – land meer nie. In 1945 was 99% van die be-volking etnies-Nederlands. Teen 2000 het die getal mense met ’n nie-Westerse migrasie-agtergrond tot 1,4 miljoen (8,8%) gestyg en in 2017 is dit byna 2,2 miljoen (12,9%).

Die PKN self het 1,85 miljoen lidmate, verdeel oor 1 572 gemeentes. Volgens ’n ondersoek van die Radboud-Universiteit van Nijmegen word verwag dat die getal lidmate teen 2030 tot net iets meer as ’n miljoen sal daal. Tans verlaat sowat 50 000 mense dié kerk jaarliks.

Bowendien vergrys die PKN vinnig. In 2006 was 39,6% van die lidmate onder 40 jaar; in 2013 het die persentasie tot 34,7 gedaal.

Teen dié agtergrond word die vraag na die “witheid” van die kerk des te belangriker.

In die lig van die agteruitgang in getalle van die meeste kerke het die PKN besluit om “pioniers-
gemeentes” te begin. ’n Predikant word by wyse van spreke die woestyn – meestal ’n omgewing waar die kerk reeds byna verdwyn het – ingestuur om sen­dingwerk te doen.

Só iemand begin deur eenvoudig met mense – op straat, in winkels, in die kroeg – te praat en te luister. Hy of sy plant ’n saadjie wat mettertyd ontkiem in ’n gemeente wat êrens in huiskamers of ’n saaltjie (selfs kroeë) byeenkom om Bybelstudie te doen en te aanbid.

Sulke “eredienste” gebeur met ’n minimum aan dogma en liturgie en ’n maksimum aan belewing en prediking. ’n Predikant merk op: “Ek dink nie die mense stel belang in ortodoksie nie; hulle wil hoor van Jesus en wat Hy vir ons beteken.”

Die pioniersgemeentes is veel minder wit as die gevestigde kerk. Daar tref jy mense van alle kleure aan, alle denkbare etniese agtergronde, alle tale, noem maar op. Die taal van die byeenkomste is pragmaties – wat die meeste mense pas. Dit is meestal maar (gebrekkige) Nederlands, ofskoon sommige gemeentes ook soms Engels of ander tale gebruik.

Die pioniersgemeentes trek heelparty bekeerde Moslems. Dis mense wat radikaal deur hul eie vroeëre geloofsgenote verwerp word en wat na ’n nuwe tuiste soek.

Die pioniersgemeentes vra nie wat jou agtergrond is en of jy volgens die norme van die kerk glo nie. Die feit dat jy by ’n diens opdaag, is genoeg.

Waar die pioniersgemeentes amptelik onder die vlerke van die PKN funksioneer en deur gevestigde gemeentes gefinansier word, kry jy ook migrante-kerke – 67 volgens die jongste telling. Omdat hulle meestal geen geld vir ’n eie kerkgebou het nie, stel die PKN of Katolieke Kerk geboue tot hul beskikking.

Madelon Grant, direkteur van die organisasie Samenwerkende Kerken in Nederland (Skin), het in ’n onderhoud met die Christelike dagblad Trouw gesê omdat die PKN spook om te oorleef, is hulle te veel na binne gerig en te wit. Hulle vergeet die migrante­kerke.

Waar ek ouderling is, in die dorpie Schipluiden net buite Delft, is daar twee bekeerde Iraniërs wat soms die kerk besoek. Maar dit lyk nie of hulle baie tuis daar voel nie, al word hulle met oop arms ontvang en het mense selfs werk vir hulle gereël.

Dus gaan hulle liewer na ’n Iraanse gemeente elders in die land. En só kan die wins van twee bykomende lidmate weer verloor word.

Die amptelike kerkleiding is bewus van die pro-bleem. Die skriba van die PKN se Algemene Sinode, ds René de Reuver, het onlangs gesê hy is bly dat
die kerk “meer kleur in die wange” kry. “Die kerk is geen spesialiteit van ’n bepaalde bevolkingsgroep
nie, maar vir en van alle mense. God is immers geen stamgod nie, maar die Heer van alle volke. Nie ’n paspoort nie, maar die doop verbind Christene met mekaar.”

Onlangs het die PKN ooreenkomste gesluit met die Gereja Kristen Indonesia (Indonesiese Gereformeerde Kerk) en met Pakistanse Urdu-gemeentes in Nederland om gemeentes van dié gemeenskappe in die PKN op te neem. In Amsterdam is die eerste Arabiessprekende gemeente in die kerk erken.

So van Arabiere gepraat: Die Moslems in Nederland het met dieselfde sekulariseringsgolf as die Christelike kerke te make. Luidens ’n PKN-verslag oor die toekoms van die kerk gaan slegs 39% van die Moslems gereeld na die Vrydaggebed (by die PKN-lidmate is dit darem nog 58%).

Die gevolgtrekking is nietemin duidelik: As die Christelike kerk in Nederland nie slegs wil oorleef nie, maar groei, sal hy onder die immigrante moet wóél. Anders lyk die toekoms régtig donker.

▶ Dr Leopold Scholtz is n historikus en n onafhanklike kommentator.


Dr Frederick Marais, assessor van die Wes-Kaapse Sinode, het op versoek van Kerkbode gereageer op die berig oor die Kerk in Nederland. Hy skryf:

Daar is soveel hoop en verrassing in wat Leopold hier berig. Ek ken die PKN reeds vir die afgelope dekades redelik goed en het die pynlike krimping van die kerk eerstehands gesien gebeur. Daarom was ek so verras toe ek hoor van die vordering wat daar gemaak word met pioniergemeentes. Dit het my ook opgeval dat die instroming van die vlugtelinge in lande soos Nederland, ’n geleentheid vir die gevestigde kerke bied om mense op te vang en tuis te laat kom. Uit verskeie oorde hoor ’n mens hoedat Moslems so tot geloof kom en inskakel by Christelike gemeentes. Natuurlik is dit klein stappies, maar die koninkryk kom in die vorm van ’n mosterdsaad.

Dit is ’n duidelike aanduiding hoedat die tradisionele verstaan van sending as ’n uitreik na ander ver van ons, nou drasties omgekeer het na mense om ons. Dit kan ons oë oopmaak vir die mense wat ook op ons drumpel leef in Suid-Afrika.

Andrew Walls beskryf dit as ’n “Ephesian moment”: “The social coming together of people of two cultures to experience Christ … in our own day the Ephesian moment has come again, and come in a richer mode than ever before” (Walls, 2004, p 78). In die gemeente van Efese was hierdie ’n kortstondige oomblik. Dalk is die missionale era waarin ons is dié era waarin die moment van kruiskulturele geloofsgemeenskappe die reël en nie die uitsondering sal wees nie!