Rudi leer die Echo-mense kook

“Is julle honger?” klink die roep in die gang af na ’n paar jongmense van die Echo-huis by die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg.

“Altyd!” roep Hendrik uit sy kamer uit.

“Wel, dan is julle in vir ’n treat. Bring gerus ook ’n pen en notaboekie, want vandag – vandag gaan ons kook!”

Ds Rudi Swanepoel van Andrew Murray het onderneem om ’n paar Masterchef-lesse aan te bied.

Waarom doen hy dit? Dit is immers nie vir een of ander fondswerwingsinisiatief nie.

“Dis bloot om terug te gee. Om ons jongmense in nood te leer dat jy met ’n beperkte begroting die ongelooflikste disse kan bemeester. Lekker eet lê my na aan die hart en my behoefte is dat almal dit beleef,” sê Rudi.

Die kookklasse is ook ’n geleentheid om gemeenskap te skep deur sy vaardigheid met ander te deel.

Op die spyskaart is pasta met tamatiesous. Nie sommer enige gewone pasta met tamatiesous nie. Hierdie dis kan enige karnivoor met ’n enkele proeseltjie laat oorweeg om ’n vegetariër te word.

En dit is wie Rudi is: ’n inspirasie, nie net wanneer hy op Sondae die kansel betree nie, maar ook wanneer hy agter die kospotte inspring.

“Mense, mense, mense, jy moet jou geure soos lae op mekaar bou. Uie eerstens, fyngekap om die goodness vry te laat en later die knoffel – teen lae hitte onthou!”

Almal is in verwondering.

“Gooi beide botter en olie in jou pan vir optimale voorverhitting,” leer Rudi hulle. Eenvoudige raad wat lei tot verbetering in beide gehalte en smaak.

Dit is natuurlik jare se oefening in Die Ou Waenhuis, Rudi se destydse restaurant in Bedford in die Oos-Kaap. Dit het hom geleer dat dit die klein veranderinge en aanpassings is wat groot verskille tot gevolg het – in die kombuis, maar ook in die lewe.

Dit is soos die evangelie – maklik verstaanbaar en ongekompliseerd. Dis nie duur of uitspattig nie – juis dit maak dit so kosbaar want die Blye Boodskap is vir almal.

Jesus het nie kaviaar of opgestopte Japannese eend as geliefkoosde etes bestempel nie. Nee, dit was gewoonlik brood en vis – die mees bekombare en bekostigbare voedsel van die dag.

Die Echo-inwoners is eenstemmig oor die leersaamheid van die kookklasse. “Ek het nie eens besef dat hier ’n kruietuin is nie; nou gaan ek ook eksperimenteer met basilie en koljander soos Rudi!” sê Melanie.

“Ons kan nie wag nie; by die volgende klas gaan ons leer hoe om skaapboud met laventel langsaam te bak in die oond.”