Toe sien hy ’n Krygsheld deur die hemelruim kom

Pinksterdienste en pinksterbidure is eie aan die NG Kerk. Langer as 150 jaar al het die jaarlikse byeenkomste ’n groot invloed uitgeoefen op lidmate se geloofslewe.

Hierdie eerste groot herlewing in die NG Kerk het in Mei 1861 in die Paarl begin. Geestelike doodsheid en die onbetrokkenheid van lidmate was kenmerkend van die tyd. Die gemeente in die Paarl was geen uitsondering nie. Daarom is daar besluit om in die aanloop na Pinksterfees om herlewing te bid. Gedurende die 10 dae van Hemelvaart tot Pinkstersondag – 9 tot 19 Mei 1861 – het verskeie gebedsgroepe byeengekom om te bid om die werking van die Heilige Gees. 

Met Pinksterfees op Sondag 19 Mei 1861 het ds GWA van der Lingen uit Lukas 24:49 oor die gawes van die Gees gepreek en ernstig gebid vir die vervulling van die belofte. Tydens die middagbyeenkoms het hy ’n visioen gesien en  diep ontroerd uitgeroep: “Vader, Vader, zie … wie is Hij… stelt zich tusschen U en ons … lieflijk voorwerp … het is de held van Bosra, zijn kleederen zijn geverwd met bloed! …”

Van der Lingen het dit so verklaar: “Toe ek met gebed besig was, het ek baie sneeuvlokkies gesien, wat na die hemel opstyg en meteens, asof om dit af te weer, kom daar bliksemstrale uit die troon, totdat ’n krygsheld in ’n mantel gekleed en met bloed bevlek met snelle vaart deur die lugruim voor die sneeuvlokkies kom, en hom tussen hulle en die troon stel, om so die bliksems af te weer. Die Krygsheld was Christus en die sneeuvlokkies die gebede van
die gelowiges.”

Hierdie gebeure het tot ’n groot herlewing in die gemeente gelei wat in die daarop volgende jare na ander gemeentes uitgebrei het. Tydens die Kaapse Sinode van 1862 is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die herlewings “een heerlijk werk des heiligen Geestes, tot redding van Zielen, en tot verheerlijking des Heeren Jezus” was.

Miskien noop die gebeure in die NG Kerk en in Suider-Afrika van 2018 ons om terug te keer na die oorspronklike bedoeling van pinksterbidure. Een van die belangrikste gevolge van die herlewings was ’n hernudesending ywer onder lidmate.

As die NG Kerk ernstig is om ’n missionale kerk in Suider-Afrika te wees, leer die gebeure van 1861 ons dat die vertrekpunt veel dieper as goeie besluite, navorsing en beplanning, lê. Dit begin by lidmate wat onder leiding van die Heilige Gees vernuwing en herlewing beleef – en dit begin by gebed.

Wie weet wat dan tydens Pinkster van 2018 kan gebeur?

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.