Arbitrasie is van die baan

Die moontlikheid van arbitrasie om ’n hofsaak tussen die NG Kerk en ’n groep van sy lidmate af te weer, is blykbaar van die baan. Die lidmate het hulle na die hof gewend om die besluite van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, ter syde te stel.


Hulle het egter middel vanjaar al arbitrasie as ’n alternatiewe manier om die geskil te besleg, voorgestel. Volgens ’n verklaring van die moderatuur van die Algemene Sinode het die kerk toe positief op dié voorstel gereageer. Die reëling was egter dat die twee partye eers hulle eedverklarings finaliseer en dan verder oor arbitrasie praat.

Die lidmate het egter gekla dat die kerk nie op hulle voorstel gereageer het nie.

Die kerk het onlangs egter wel ’n brief geskryf waarin hulle dié voorstel verder wou voer, maar volgens die moderatuur se verklaring het die ap­plikante toe aangedui dat hulle nou verkies om nie van ge­regtelike arbitrasie gebruik te maak nie.

Dit beteken dat die hofsaak, wat geskeduleer is vir 21 Augustus in die Noord-Gautengse Hooggeregshof, nou waarskynlik sal voortgaan.

Die moderatuur se volledige verklaring, onder die opskrif “Hofsaak teen die NG Kerk oor sy be­sluite oor selfdegeslagverhoudings in 2016” lui soos volg:

Die moderatuur van die NG Kerk is bewus van ’n aantal verwarrende persberigte oor die aansoek wat 11 van ons lidmate by die Hooggeregshof ingedien het om die kerk se 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudings ongeldig te verkaar en bied hiermee verdere toeligting oor die saak. Die aansoek handel met veral twee kwessies naamlik die vraag of die regte prosedure gevolg is deur die vergadering van die Algemene Sinode in 2016 toe daar besluit is oor selfdegeslagverhoudings, en of die kerk se besluit voldoen aan die vereistes van die land se Grondwet. 

Die moderatuur is teleurgesteld dat daar nie daarin geslaag kon word om die applikante te oortuig om die tegniese kwessies binne die kerklike opset en raamwerk van ons Kerkorde aan te spreek nie. Daar word immers ruimte gemaak binne ons Kerkorde dat enige kwessie waaroor reeds besluit is, weer by ’n volgende vergadering van die Algemene Sinode bespreek kan word en dat vorige besluite inderdaad herroep kan word, hetsy oor tegniese foute wat gemaak is, of oor die inhoudelike van die besluit. Die saak kan op die agenda van die vergadering kom by wyse van ’n gravamen, beswaarskrifte en/of beskrywingspunte vanaf kerklike vergaderings.

Die kerk het reeds in Junie 2017, toe die applikante aangedui het dat hulle in ’n arbitrasieproses belang-stel, positief gereageer. Die reëling was egter dat die eedverklarings van die twee partye eers gefinaliseer word en dat daar dan daarna finaal oor die moontlikheid van arbitrasie besluit word. Die kerk is teleurgesteld dat die applikante nou verkies om nie van ’n geregtelike arbitrasieproses gebruik te maak nie.

In hulle eedverklaring het die applikante veral gehandel met regstegniese sake, onder meer oor die reg op appèl teen besluite van die Algemene Sinode. Die verteenwoordigers van die kerk het by wyse van hul eedverklaring besluit om nie die reg op appèl teen die Algemene Sinode se besluite te verdedig nie. Die kerk is egter oortuig dat die vergadering van 2016 op ’n wettige wyse byeengeroep is om gravamina, beskrywingspunte en voorleggings te bespreek. Die saak waaroor die 2015-besluite gehandel het, is op hierdie wyse nuut op die tafel van die sinode geplaas, bespreek en tot stemming gebring.  Die voortspruitende besluite is op die korrekte kerkordelike wyse geneem.

Die kerk moes in sy eedverklaring reageer op be-weringe deur die applikante. Die applikante het onder meer beweer dat die kerk deur sy 2016-besluit gay persone se reg op vrye assosiasie aantas. Die kerklike verteenwoordigers stem nie met hierdie bewering saam nie en het dit so in hulle eedverklaring aangedui. ’n Interpretasie dat die kerk hiermee gay lidmate aanmoedig om by ander kerke aan te sluit, of nie omgee as hulle dit sou doen nie, is beslis nie ’n korrekte weergawe van die kerk se stellingname of bedoeling in sy eedverklaring nie. Die kerk het immers ’n akkommoderende standpunt (2016) oor sy gay lidmate ingeneem wat juis die teendeel van so ’n houding aandui.

Die kerk hoop steeds dat die bekommernisse en weerstand van die 11 applikante teen die 2016-besluit buite die hof besleg kan word.