Dis Pinkster

’n Beeld van ’n duif, as simbool van die Heilige Gees, deur die beeldhouer-predikant Nic Grobler. Grobler vertel dat die beeld gemaak is na aanleiding van Matteus 3:16, waar gesê word dat die Gees van God by Jesus se doop soos ’n duif op Hom neergedaal het.

Hy sê die duif is vir hom ’n wonderlike simbool van die groot geskenk wat die Heilige Gees vir ons gebring het, naamlik vrede – vrede met God, vrede met ander mense en vrede met onsself. Daarom gebruik hy dit graag as simbool van Pinkster.

Volgens Grobler kan die duif gesien word in die kuns van Christene van die vroegste tye af. Aanvanklik was dit met ’n olyftakkie in die bek na aanleiding van die duif in die verhaal van Noag. Die duif is maar een van baie kragtige simbole waardeur die goeie nuus versprei kan word en dis wat hy graag doen deur beeldhou met ’n Boodskap, sê Grobler.

Hy hou vanjaar die Pinksterreeks by die NG gemeente Reebok by Kleinbrakrivier, waar sy beelde ook uitgestal word.