Grondhervorming – die morele oorwegings

Terwyl die debat oor grondhervorming nou in intensiteit toeneem, is daar morele oorwegings wat sterk in ag geneem moet word.

Daar kan geen twyfel wees dat grond op ’n onbillike wyse tussen die rassegroepe van Suid-Afrika verdeel is nie. Die Naturellen Grondwet (wet nr 27 van 1913) en die Naturelletrust en -grondwet (wet nr 18 van 1936) het grondbesit deur Khoisan- en swartmense verhoed, gereguleer of beperk.

Maar lank voor die Uniewording in 1910 was daar reeds verskeie wette en regulasies wat witmense be­voordeel het met die oog op grondbesit. Uit ’n etiese hoek gesien, moet billikheid en geregtigheid vir almal nagejaag word. Dat grondhervorming moet geskied, is dus nie te betwyfel nie.

Die NG Kerk is reeds sedert 2002 by gesprekke oor grondhervorming betrokke.

Daar is die hele kwessie van huiseienaarskap, dikwels van huise wat deur die staat gebou is waarvan die eienaarskap na geslagte nog nie na die inwoners oorgedra is nie. 

Daar is die kwessie van stamgronde en meentgronde. Daar is sogenaamde trustgronde. Dan is daar residensiële gebiede wat dikwels so beperkend is dat die bevolkingsdigtheid in woonbuurte onbehoorlik hoog is.

Ook verblyfreg is ’n reuse-kwessie. Tydens ’n konferensie wat die NG Kerk in 2017 saam met die Instituut vir Geregtigheid en Versoening oor titelaktes aangebied het, is die beveiliging van verblyfreg deur sommige konferensiegangers as die belangrikste grondkwessie beskou.

Staatsgrond soos die kusstrook, natuurreservate en bergagtige gebiede beslaan ook miljoene hektare. 

Dan is daar natuurlik die groot kwessie van landbougrond en die wyse waarop die eienaarskap daarvan nie die aansprake van die swart bevolking bevredig nie.

Die gebrek aan ’n behoorlike grondoudit veroorsaak natuurlik dat mense die vryheid het om baie ongenuanseerd oor grondhervorming te praat.

Die tweede etiese riglyn wat die kerk dus moet gee, is dat dit nie eerlik is om ongenuanseerd oor grondhervorming te praat nie.

Die kerk het ook ’n morele plig om te waarsku teen die vernietiging van die voedselsekuriteit in ons land. 

Voeg hierby ons verantwoordelikheid om te verhoed dat mense op nuwe maniere van hulle grond en eiendom beroof word. Individue wat op bona fide wyse hulle grond bekom het, kan nie maar sonder meer verantwoordelik gehou word vir die ideologiese vergrype van vroeëre geslagte nie. 

Artikel 25 van die Grondwet plaas ’n reuse-verantwoordelikheid op die agenda van die regering en die staatsdiens. Die rekord van die regering sedert 1996 in terme van grondhervorming laat, om die minste te sê, veel te wense oor.

Baie plase is vervreem en lê tans in onbruik. Suksesvolle boerderye is in die proses vernietig. Nuwe swart boere is nie gehelp om besitters van grond te word nie en kon daarom nie finansiering bekom vir hulle boerdery nie. Landbou-voorligtingsdienste van die staat het op plekke in duie gestort. Korrupsie het groot dele van begrotings vir grondhervorming inge­sluk.

Die probleem is dus nie die Grondwet nie, maar die regering se onvermoë om op ’n ordelike wyse grondhervorming deur te voer. Die kerk moet hieroor protesteer.

Die gebrek aan visie by die staat om landbou-organisasies soos AgriSA se potensiële bydrae tot grondhervorming na waarde te skat, help beslis ook nie. Die kerk moet ook bly getuig oor die onbenutte bronne van die privaatsektor en burgerlike samelewing.

Die fundamentele vraag is natuurlik of privaat besit van landbougrond hoegenaamd in Afrika aanvaarbaar is. Met die uitsondering van Suid-Afrika, Namibië, dele van Botswana en dele van Zambië, word geen private grondbesit in Afrika toegelaat nie. Alle grond behoort aan die staat en word deur middel van ooreenkomste aan boere verhuur of deur stamowerhede bestuur. Geen oordrag van titelaktes na privaat besitters vind plaas nie.

Die vraag is dan of die staat daarmee vertrou kan word om hierdie reuse-bestuursproses te behartig. Die ekonomiese uitdaging wat ’n globale markekonomie bied, is ook dat die sekuriteit van privaat grondbesit een van die belangrikste vereistes is vir buitelandse ekonomiese investering. 

Die moderamen van die Algemene Sinode neem tans deel aan gesprekke oor grondhervorming en gaan ook ’n voorlegging doen aan die parlementêre komitee wat nou oor Artikel 25 van die Grondwet besin.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.