Só werk Tshwane se kerke oor grense saam

Hulle breek verkeerde persepsies van mekaar af, bou verhoudings en pak oor kerkgrense heen verskillende uitreikprojekte saam aan.

So gesels ds Johan Janse van Rensburg van Kerk-in-Suid (soos die NG gemeente Wierdapark-Suid haarself nou noem) oor die samewerking tussen kerke in die groter Pretoria onder die vaandel van One Tshwane.

Self het hy onlangs gepreek by Lewende Woord, ’n charismatiese kerk in hulle omgewing, terwyl pastoor Wouter van der Merwe van Lewende Woord by Kerk-in-Suid gepreek het. Ander leiers van die twee gemeentes het saam aan dié oor-en-weer-kuier deelgeneem.

Sulke kanselruilings oor kerkgrense het nou al ’n jaarlikse instelling in Mei geword vir deelnemende kerke wat almal een reeks deurwerk. Vanjaar is die tema One Love. Verlede jaar was dit “One Life”, en twee jaar terug “One church, one city, one God”.

Janse van Rensburg sê in die charismatiese kerke is daar verkeerde persepsies van die NG Kerk, net soos daar in die NG Kerk verkeerde persepsies oor charismatiese kerke is. Hierdie soort kontak help om daardie persepsies reg te stel.

In die suidelike streek van Tshwane kom gemeenteleiers ook maandeliks bymekaar om saam ontbyt te eet en na ’n spreker te luister. Hulle noem hulleself Love Pretoria South. In ander dele van die stad is daar soortgelyke streke.

Janse van Rensburg sê as hulle so saamkom is daar mense van die Gereformeerde Kerke, die Hervormde Kerk, die AGS se Doxa Deo-gemeentes, en charismatiese kerke soos Lewende Woord. Hulle het selfs al ’n Katolieke priester gehad wat kom inloer het.

Dit alles het daartoe gelei dat die kerke al meer gesamentlike uitreikprojekte aanpak. Verlede jaar het Kerk-in-Suid byvoorbeeld saam met kerksondermure en Lewende Woord deelgeneem aan die Goeie Nuus Kersboom.

Daardeur het die gemeentes emmers vol kos ingesamel wat later na behoeftige gemeenskappe toe
versprei is.

Einde Junie beplan Kerk-in-Suid om saam met Lewende Woord te werk aan ’n uitreikprojek Mosam-biek toe.

Janse van Rensburg sê in Mei verlede jaar het 164 gemeentes van verskillende kerke in Gauteng deelgeneem aan die “One Life”-reeks. Onder hulle tel verskeie NG gemeentes.

▶ One Tshwane se webwerf is www.onetshwane.co.za, waar meer besonderhede beskikbaar is.