‘Jesus ruik soos ons’

Pierre du Plessis het met sy debuutboek die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys opgeraap. In plaas van om die Goddelikheid van Jesus te beklemtoon, fokus hy op sy menslikheid in Jesus ruik na mirre en stof. Op die mirre, stof, bloed en meer waarna Jesus geruik het tydens sy aardse bestaan. En hy wens dat dié wonderlike geur aan ons sal afsmeer. Conette le Roux het met hom gesels.


Jesus lewe so naby aan ons, dat hy soos ons ruik.”

In dié kragtige woorde som Pierre du Plessis sy boek op wat onlangs met die Desmond Tu­tu-Gerrit Brandprys bekroon is. 

Jesus ruik na mirre en stof (Lux Verbi) is volgens die beoordelaars besonders omdat dit die menslikheid van Jesus beklemtoon, wat dikwels onderbeklemtoon word as gevolg van sy Goddelikheid. Hulle sê: “Die verrassende invalshoek van Du Plessis is sowel intel­lektueel stimulerend as geestelik verrykend.”

Pierre vra aan die begin van die boek: Hoe het Jesus geruik? Regdeur die boek volg hy Jesus se aardse pad van krip na kruis. By sy geboorte het Jesus byvoorbeeld na mirre geruik. As timmerman na hout. Na stof en sweet terwyl hy op stofpaaie gestap het. Met sy kruisiging na bloed.

Susan Jordaan van Lux Verbi beskryf Pierre as “’n jong alternatiewe stem in die Christelike mark” omdat hy “anders” na dinge, sy geloof en mense rondom hom kyk. “Daar moet plek wees vir dié wat anders is as onsself in die kerk, want is dit nie eintlik waarvoor die kerk en die Christendom bestaan nie – sy nielede?”

Anders of alternatief kom by jou op wanneer jy Pierre se pad tot dusver volg. Hy het ’n graad in die modebedryf verwerf, vir Soviet Jeans ontwerp en in die advertensiebedryf as stilis en kunsdirekteur gewerk.

Hy en ’n paar vriende het sowat 12 jaar gelede ’n alternatiewe geloofsgemeenskap in Pretoria, genaamd Third Place gestig. Juis vir mense wat nie noodwendig in die kerk gemaklik sal voel nie.

Vandag woon Pierre, sy vrou Rialette en sy kinders, Noa en Luther, in Kaapstad nadat hulle onlangs Sunnyside vaarwel geroep het. Pierre is nou deeltyds betrokke by Invia-gemeente, ’n gemeenskap wat sterk fokus op kontemplasie en aksie.

Hy en sy vrou het ook ’n besigheid, Be Brave, waar Pierre vir korporatiewe kliënte praatjies aanbied oor “tendense, innovering en hoe om te werk en leef in ’n mal wêreld”. Sy vrou is weer ’n “Strengthsfinder coach” wat spanne in besighede help om mekaar beter te verstaan en om almal se sterkpunte te ontdek.

Maar nog ’n titel wat Pierre hom graag mee vereenselwig is dié van ’n “flaneur”. Iemand wat rondstap in hulle omgewing of in koffiewinkels sit en almal en alles rondom hom fyn waarneem.

Pierre vertel Jesus het hom in sy vroeë twintigs “gekry”. En dit het sy lewe handomkeer verander. “Ek het toe eers besluit om regtig die waarheid te soek, net om agter te kom die waarheid is eintlik ’n Persoon.”

In 2016 het hy sy graad in teologie deur Unisa voltooi en tydens sy studies ook ’n groot liefde vir eerste- eeuse geskiedenis ontwikkel.

En dis juis sy kennis van antieke kultuurgeskiede­nis wat Pierre op ’n toeganklike wyse in Jesus ruik na mirre en stof verweef.  Pierre stem saam dat sy debuutboek ’n vars en unieke inslag het. “Ek dink daar is eintlik min boeke wat direk oor Jesus handel, baie gaan oor die spiritualiteit, etiek, of dogma van Christenskap. Meeste van daardie boeke gebruik Jesus as ’n verwysingspunt. Ek stel baie belang in Jesus as mens, ek dink dit is ’n baie belangrike aspek wat ons vergeet. Ons sien Jesus maklik as God in die hemel, op ’n troon met engele, maar moeilik as ‘een van ons’, en dit is juis die mooi van Jesus, mens en God gelyk.”

Vir die lesers het hy ’n wens: “Ek hoop na hierdie boek is Jesus nader aan jou, ek hoop jy ken Hom dalk ’n bietjie beter en dat jy kan sien hoe naby Hy eintlik nog heeltyd aan jou was … ek hoop jy ruik ook soos sy liggaam, dat jy ook ’n wonderlike reuk vir die wêreld sal wees.”

In die laaste hoofstuk skryf Pierre oor die reuk van vreemdelinge. Hiermee wil hy ander aanmoedig om “nader aan mense” te leef.

Pierre sê: “Ons is almal so opgesluit in ons huise, estates, motors en kantore. Ons is baie verwyder van wat aangaan in ons stede en in ons land. Dis wat Jesus gedoen het, dit is wat Hy ons uitnooi om te doen.”

Hy skryf dat jy, onder andere, jou tafel met “buitestanders, skeptiese mense, arm mense, predikers (sonder grade!), enkelouers, eenvoudig moeilike mense of moeilike eenvoudige mense moet deel”.

Pierre glo ook ons kan iets by Ierse monnike leer: “Hulle het hul vas vir slegs een rede vroeër gebreek – wanneer vreemdelinge daar aangekom het! Gasvryheid was vir hulle belangriker as vroomheid.”