Seniors moet sinvol bly lewe

Op 76 is dr Petrus Moolman besig om te leer om die tjello te speel. Die lewe moet ’n lied bly. Maar hy glo ook dat die kerk baie kan doen om ouer lidmate te help om tot die einde sinvol te bly leef. NEELS JACKSON het met hom gesels.


Musiek, het dr Petrus Mooman gelees, help om die brein te ontwikkel. En as ’n mens vroeër ’n instrument bespeel het, is dit beter om nou ’n tweede instument by te leer. Daarom leer hy nou tjello speel.

In sy jong dae het hy viool gespeel, maar die blad­lees is anders met die tjello. Dis vir hom ’n lekker uitdaging. Boonop het die gemeente se orrelis gesê hy moet mik daarna om by vanjaar se Kerssangdiens “Stille Nag” te speel. Sulke uitdagings help om die verstand jonk te hou. Dit help om die lewe sinvol te maak. Daardeur word die lewe ’n lied.

Tot onlangs toe was dit ds Petrus Moolman, maar op 4 Mei het die Noordwes-Universiteit ’n doktorsgraad aan hom toegeken. Dit span die kroon op die navorsing wat hy die afgelope paar jaar gedoen het oor ’n omvattende seniorvolwassenebedie­ning. Ook dié navorsing en die bediening waaroor dit gaan, maak sy lewe op pad na 80 toe sinvol.

Dr Petrus Moolman met die tjello wat hy nou besig is om te bemeester. Foto: Neels Jackson

Dis ’n lang woord – seniorvolwassenebediening – maar daarmee wil hy onder meer sê dat dit nie net ’n bediening áán senior lidmate is nie, maar ook ’n bediening déúr senior lidmate.

Moolman vertel dat hy as pastorale hulp by die gemeente Ligkruis in Middelburg, Mpumalanga, verantwoordelik was vir die bediening aan senior lidmate. Dit is toe dat hy begin lees het oor die gerontologie, die studie van ouer word.

Dis ook daar dat hy te doen gekry het met mense wat na hulle aftrede “ophou lewe”. Hulle het geen visie gehad vir die lewe vorentoe nie. Daar was net geen sinvolle rede waarvoor hule geleef het nie.

Dít het die prikkel geword wat uiteindelik sou lei tot sy eie verwerwing van ’n doktorsgraad op die ouderdom van 76. Hy wou weet hoe kan die kerk mense begelei om betekenisvol te bly lewe tot die einde. Hoe kan hulle sinvol lewe te midde van die uitdagings wat die ouderdom meebring, die
swakker word en siek word.

Braak veld

Vir die NG Kerk is daar ’n groot en braak veld om te ontgin as dit kom by die bediening van senior lidmate. Die kerk verstaan nie goed genoeg nie dat mense nou langer leef, dat daar meer ouer mense in die kerk is en dat baie gemeentes nou gryser word. Jare gelede, sê Moolman, is daar al by ’n algemene sinode gerapporteer dat die aantal lidmate ouer as 65 nou meer is as die dooplidmate.

En tog gebeur daar op baie plekke so min as dit kom by die bediening van senior lidmate. ’n Gemeente sal tipies ’n dominee kry om die ouer lidmate te bedien. Die dominee sal huisbesoek doen, Bybelstudie hou, en dan sal daar dalk ’n ete een maal per jaar wees om die senior lidmate te bederf. Maar dis al.

Moolman onthou ’n uitspraak wat prof Daniël Louw, praktiese teoloog van Stellenbosch, eenmaal hieroor gemaak het. Die kerk, het hy gesê, probeer te veel om ouer mense se tyd te vul, pleks daarvan om hulle te help om betekenisvol te leef.

In die gemeente Overkruin waar hy nou betrokke is by die seniorbediening, is die gedagte om ’n omvattende bediening vir en deur senior lidmate te vestig, sê Moolman. Hy is versigtig om dit ’n model te noem. ’n Model is iets wat net so op ander plekke toegepas kan word. Hy praat eerder van ’n benadering wat telkens in verskillende kontekste gevolg kan word op maniere wat by daardie konteks pas.

Wie is die ouderdomsgroep op wie dié bediening gerig is?

Moolman sê hulle werk nie met ouderdomme nie, maar eerder met lewensfases. Een mens kan op 60 nog jonk en energiek wees, terwyl ’n ander op dieselfde ouderdom al oud kan wees. Daarom is ouderdom nie ’n goeie norm om te gebruik nie.

Vier groepe

Hy onderskei wel vier groepe mense aan wie die bediening vir seniors wil aandag gee.

Die eerste is, verrassend dalk, diegene wat nog nie afgetree het nie. Dié mense wat op pad is na aftrede binne die volgende klompie jare. Dit is belangrik om met hierdie mense te werk om hulle te help om vir aftrede te beplan. Ja, sê hy, mense beplan finansieel vir aftrede, maar dis dikwels ook al. Daar is soveel meer waaroor daar gedink moet word.

’n Mens moet byvoorbeeld nie net vra waarmee gaan jy jouself besig hou ná aftrede nie, maar hoe gaan jy betekenisvol besig bly na aftrede. En as dit gaan oor “betekenisvol”, dan is dit betekenisvol vir jouself, betekenisvol vir ander en betekenisvol vir God.

Hierdie groep is die moeilikste om te bereik, omdat hulle so besig is, sê Moolman, maar onlangs het hulle op ’n Saterdagoggend ’n seminaar gehou om te praat oor naderende aftrede en daar was meer as 150 mense.

Aan die ander kant van die spektrum is daar diegene wat bed- en huisgebonde is.  Hulle word besoek. Maar dit is nie net die dominee se werk nie. In ’n groot gemeente soos Overkruin sou dit ’n onbegonne taak wees dat die dominee alleen almal moet besoek.

Dit is een van die punte waar die seniorbediening ’n bediening deur seniors aan seniors word. Daar is ’n groep seniors wat spesifiek uitreik na huis- en bedgebonde mense. Hulle het opleiding gekry daarvoor. En met die kerkraad se toestemming, kan hulle selfs vir sulke mense nagmaal bedien.

’n Groep vroue sit saam en brei in ’n sitkamer. Vir hulle is dit nie net ’n stokperdjie nie, maar ook ’n diensprojek. Foto verskaf

Tussen diégene wat nog op pad is na aftrede toe en dié wat huis- en bedgebonde is, is daar nog twee ander groepe: dié wat nog ekonomies aktief is, en dié wat nog sosiaal aktief is. Dit is in albei gevalle gewoonlik mense met tyd én geld én energie.

Maar dit is nie mense sonder probleme nie.

Moolman sê as deel van sy werk vir die doktorsgraad het hy kwalitatiewe navorsing gedoen onder meelewende lidmate. Hy het saam met 11 ouer lidmate deur hulle lewensverhale gewerk. In 11 uit die 11 gevalle was daar ’n saak wat die persoon met niemand anders gedeel het nie. Daar was dinge soos skuldgevoelens en onverwerkte pyn oor die een of ander verlies.

Hy het hulle begelei om deur die struikelblokke te werk na ’n visie vir die toekoms toe.

Die benadering wat hy vir die kerk voorstel, sê Moolman, moet omvattend en holisties wees. Dit moet die volle mens help om vrede te maak met die verlede, om vrede te maak met die nou en om te droom oor die toekoms.

Steungroepe

’n Belangrike sleutel daartoe is om kennis te versprei, en dit kan in groot inligtingsgroepe gedoen word.

Hy noem ’n voorbeeld waarvan hy self ervaring het. Sy vrou het in 2007 Alzheimer se siekte gekry. Sy is in 2013 oorlede en jare lank moes hy haar oppas en versorg. 

Dit is iets wat met al meer mense gebeur. Iemand wat ouer word se geheue word al swakker en vir die lewensmaat word dit ’n krisis om iemand met demensie op te pas en te versorg. Daarom het hulle in die gemeente ’n seminaar gehou oor die huweliksmaat as versorger van iemand met demensie. Die reaksie was oorweldigend.

As uitvloeisel van die seminaar het hulle ’n steungroep op die been gebring van sewe mense wat hulle reeds in die situasie bevind dat hulle vir hulle lewensmaats met demensie moet sorg. Dié groep help mekaar. Dis ’n bediening deur bejaardes aan bejaardes.

As daar tussen hierdie mense ’n behoefte daarvoor ontstaan, kan hy as dominee individuele berading doen.

Daar is verskeie temas waarom sulke steungroepe gevorm kan word. Daar kan ’n steungroep wees van wewenaars en/of weduwees, ’n steungroep vir die ouers van kinders wat emigreer, ’n  herstel-steungroep vir ouer mense wat gerehabiliteer is van substansafhanklikheid, ’n steungroep vir pas-afgetredenes wat die verliese beleef wat met aftrede gepaard gaan, en geestelike steungroepe.

’n Ander saak wat meermale voorkom, is dat mense sukkel om in hulle huwelik by aftrede aan te pas. Skielik is twee mense baie meer tyd saam as wat voorheen die geval was. Dit kan lei tot konflik en huweliksprobleme. Ook dit is ’n saak waarin ouer lidmate mekaar kan ondersteun.

Moolman sê daar is heelwat mans wat by aftrede kom wat nou nog nie vrede gemaak het met die bosoorlog van hulle jeug nie. Dis nog ’n saak wat  ’n omvattende seniorvolwassenebediening se aandag verdien. Hy beplan ’n seminaar oor die bosoorlog en emosionele verwonding.

Belangegroepe

Maar dan kan ’n seniorvolwassenebediening ook belangegroepe vestig. Dit is groepe wat mense om ’n gedeelde belangstelling bymekaar bring.

Sulke groepe moet volgens die behoeftes in die betrokke gemeenskap gevestig word. In dié verband dink hy aan boekklubs, musiekklubs, groepe met ’n gedeelde belangstelling in enigiets van digkuns, naaldwerk of kook tot tuinmaak, rekenaars en reis.

’n Groot deel van ouer mense se probleem is eensaamheid, sê Moolman. Belangegroepe is geleenthede waar ouer lidmate sosiaal kan verkeer.

Dis ook geleentheide om talente uit te leef. Soos hy die tjello leer speel kan ouer lidmate hulle talente op verskillende terreine uitleef.

Daarby is dit geleentheide om vaardighede aan te leer. In Middelburg, vertel Moolman, het hulle ’n suksesvolle groep gehad om ouer lidmate te help om rekenaarvaardig te word.

Nog ’n aspek van so ’n omvattende seniorbediening is dienslewering. Diégene wat huis- en bedgebonde mense besoek, is maar een voorbeeld daarvan. Hy lei hulle op om dit te doen en selfs om nagmaal aan sulke mense te bedien.

Maar daar kan ook afgetrede lidmate wees wat ander kan help met vervoer, of mense wat handig is
en ander kan help om byvoorbeeld ’n dooie gloeilamp te vervang of ander klein instandhoudingstakies te
verrig.

Bejaardes kan ook vrugbaar betrokke raak by sending- of barmhartigheidswerk waardeur die gemeente uitreik na die wêreld om hulle. Dit is maniere om baie sinvol te bly leef tot die einde.

Moolman sê hy het sy doktorale studie nie net vir homself gedoen nie. Hy wil graag die breër kerk daardeur help. Hy wil graag die kennis deel, daarom is ander gemeentes wat so ’n omvattende seniorvolwassene-bediening wil vestig, welkom om by hom te kom aanklop.

“Dit is my bediening tot ek doodgaan,” sê hy.

▶ Moolman kan by lafras@mweb.co.za bereik word.