Derde spasies het Jesus-volgelinge nodig

Die naam “derde spasie” beskryf die derde ruimte, waar mense beweeg in hul lewe. Die eerste spasie is huis en die tweede spasie is werk. Die derde spasie skep ’n plek waar mense kan ontlaai, praat oor dinge wat vir hulle belangrik is, waar hulle kan ontspan, informeel nuwe vriendskappe kan ontwikkel en ou vriendskappe verdiep.

In Ray Oldenburg se boek, The great good place, argumenteer hy dat ons almal ’n derde spasie nodig het. Hy argumenteer dat huis is waar ons leef en saam met wie ons leef; ons werksplek/skool is waar ons waarskynlik die meerderheid van ons tyd spandeer, maar is baie taakgeoriënteerd. Ons het ’n derde spasie nodig wat wyer, meer vloeibare, kreatiewe interaksie met mense en ons gemeenskap moontlik maak.

Die vraag is: Waar pas die kerk in die gesprek in?

Wanneer ek my ouers vra wat hulle derde spasie as jong volwassenes was, antwoord hulle dadelik, die kerk. Die KJA (Kerklike Jeugaksie) is waar hulle mekaar ontmoet het, waar hulle pluimbalwedstryde ge­reël het, saam met wie hulle op staptoere gegaan het en waar al hul vriende was.

Indien ek vandag vir jong volwassenes vra wat hul “derde spasie” is, is daar ’n verskeidenheid antwoorde. Sosiale media, my fietsryklub, my “online gaming community”, die plaaslike koffiewinkel, die kroeg om die draai, die markie op die wynplaas op Sondae, piekniek-konserte in die park, die gimnasium, ens. 

Die vrae wat ons as Jong Volwasse Leergemeenskap vra, is: Moet die kerk baklei om die derde spasie in mense se lewe te wees of moet die kerk ophou om te probeer kompeteer met al die ander derde spasies? Moet die kerk eerder jong volwassenes help om sin te maak uit al die derde spasies en teenwoordig wees in dié spasies?

Jesus het homself gereeld in derde spasies bevind, ons lees van Jesus op die markplein, ons lees van Jesus tussen vissermanne op die strand.

Kerke spandeer baie tyd en geld daaraan om ’n atmosfeer te skep wat voel soos ’n “derde spasie”. Koop goeie koffie, koop gemaklike banke, verf lokale, ens. Ek wonder net of ons nie daardeur ons aandag aflei van die taak om ’n gemeenskap van Jesus-volgelinge te skep nie? Versterk ons nie daardeur juis idees soos die “kerk is net ’n gebou” en “kerk vind net plaas op Sondae” nie?

Dalk moet ons as kerk meer tyd daaraan spandeer om reeds bestaande derde spasies te inkarneer. Koffiewinkels, gimnasiums, haarsalonne en bergfietswedrenne is plekke waar mense ongestruktureerde tyd spandeer. Jesus-volgelinge is nodig in daardie plekke. As kerk moet ons ’n spontane, konstante teenwoordig­heid in daardie spasies hê. Dit beteken dat ons opdaag sonder ’n agenda. Dat ons belê in outentieke verhou­dings in spasies. Mense bevind hulleself in derde spasies omdat hulle die behoefte het aan interaksie.

Die kerk het derde spasies nodig en derde spasies het die kerk nodig. Ons het spasies nodig waar ons net kan inval en welkom voel. Dit hoef nie noodwendig “by die kerk” te wees nie. Die kerk kan enige plek ontmoet en mense innooi.

Ds Elsché Eygelaar is ’n tentmakerpredikant by die NG gemeente Constantia en ook Young Adult Ministry Leader by die Anglikaanse kerk, Christ Church, in Kenilworth.