Magdalenahuis is die kerk se biesiemandjie vol hoop

’n Ontstellende hoeveelheid rook borrel onder haar kar se enjinkap uit toe Annalise Wiid voor Magdalenahuis stop. Sy is daar vir die onderhoud vir hierdie artikel, maar nou is haar eerste prioriteit net: “Wie gaan my help?” Toe sy daar inbars met: “Ek dink my kar is aan die brand!” besef sy: Presies só dringend soek almal wat hier aanklop, na hulp. Sy vertel verder.


Magdalenahuis is ’n beradingsentrum vir vroue met krisisswangerskappe. Maar hulle doen ook veel meer. Dít vind ek uit om ’n gesellige tafel, met melktert en koffie. Ná ds Stef Esterhuizen, ondervoorsitter van die beheerraad, eers gaan seker maak het my kar verkool nie.

Koelkop. Dié mense bly koelkop in krisisse. Dit is uit die staanspoor duidelik. En dit boesem vertroue in. ’n Mens voel veilig by hulle. Magdalenahuis, ’n dood­gewone huis in ’n voorstedelike buurt, is ’n diens van Badisa – die gesamentlike barmhartigheidsaksie van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die VGKSA van Kaapland. Hulle kom al ’n lang pad.

Magdalenahuis het 116 jaar gelede ontstaan, in ’n tyd toe meisies met “ongewenste swangerskappe”, weggesteek en soms selfs verwerp is. Toe was Magdalenahuis ’n veilige skuilplek vir meisies wat nie die swangerskap in hulle gesinne of gemeentes kon deursien nie – tot na die geboorte en waarskynlike aanneming.

Anneke Raubenheimer, maatskaplike werker, sit op een van die stoeltjies wat die vroue in die dagprogram maak. Agter haar lê ook ’n bababedjie. Hulle maak die stoeltjies vir hulleself om op te sit tydens die dagprogram se aktiwiteite. Maar ook om te verkoop om inkomste te genereer.

Selfs in die 1970’s was Magdalenahuis nog bietjie van ’n afskrikmiddel: “As jy jou nie gedra nie, beland jy daar”. Buite-egtelike swangerskap was vir baie mense destyds eenvoudig net sinoniem met sonde en skande.

As die mure van hierdie huis maar kon praat! Van hoeveel angs en hartseer sou dit nie vertel nie. Hoeveel liefde en pyn. Drome en skerwe en heel word en moed skep. Vergifnis en aanvaarding en kop-oplig. Dinge het baie verander, maar ds Stef sê: “Jy sal verbaas wees hoeveel mense steeds hulle mond uitspoel oor meisies wat buite-egtelik swanger raak. Asof mans geen aanspreeklikheid het nie.”

Hier by Magdalenahuis is egter nie veroordeling nie. Net oop arms, begrip en goeie, wyse raad en leiding. Hoewel stenig-woorde soos “sonde” en “skande” nie meer so algemeen gebruik word nie, is Magdalenahuis se diens steeds, en dalk selfs nog meer, relevant.

Deesdae woon meisies nie meer daar in om weg te kruip nie. Vroue met krisisswangerskappe kan wel steeds inskakel vir berading. En word deur ervare maatskaplike werkers begelei tot ’n ingeligte en verantwoordelike versorgingskeuse ten opsigte van hul baba.

Dié wat kies om hul baba te behou, kan inskakel by die program “Eerste Duisend Dae” – die tydperk tussen bevrugting en die kind se tweede verjaardag, wat ’n uiters belangrike grondslagfase vir ’n kind se brein- en vroeëkinderontwikkeling is. Navorsing bewys: Die regte voeding, opvoeding en bystand gedurende dié eerste duisend dae lê die fondasie vir die kind se vermoë om te groei, te leer en te floreer. “Right start, bright future!”

“Ons visie met die Eerste Duisend Dae is onder meer dat hulle ma-wees kan geniet,” sê Stephny du Plessis, die programbestuurder, met indrukwekkende entoesiasme.

Twee deelnemers aan Magdalenahuis se dagprogram versorg hulle groentetuin in die binnehof. Dit lewer genoeg vir ’n gesonde maaltyd elke dag. Foto verskaf.

Magdalenahuis Beradingsentrum is oortuig dat niemand bestem is om deur die lewe oorweldig te word en tou op te gooi nie. Daarom word alle beskikbare metodes aangewend om mense hoop te laat skep en liefde te laat ervaar.

Hedendaags word hierdie weerlose swanger dames, wat meestal uit moeilike maatskaplike omstandighede kom, deel van Magdalenahuis se ondersteunings- en bystandsprogram wat fokus op verantwoordelike ouerskap, lewensvaardighede en om finansieel onafhanklik te funksioneer deur middel van entrepreneurs­ontwikkeling.

Verder fokus die program daarop om maatskaplike kwessies te hanteer deur vroeë intervensie met die doel om mishandeling en uitbuiting van kinders, kindersterftes, onbeplande tienerswangerskappe en MIV te voorkom. Clicks-apteek lewer as gesondheidsvennoot ’n waardevolle bydrae binne die program.

Die meisies kry Maandag tot Vrydag gratis heen-en-weer vervoer en daagliks twee gesonde, gebalanseerde maaltye. Goed vir die ma se lyf en die baba se ontwikkeling. In die binnehof kweek hulle heerlike vars groente. Die naaldwerkprojek maak byvoorbeeld stoele en bedjies uit lap. Lewensvaardighede waarmee die vroue ’n onafhanklike bestaan kan maak. Toe ek daar instap, het hulle pas klaar kolwyntjies gebak. ’n Regte, lekker en doodgewone ma-ding om te doen.

Roxy Delport, tans deel van die dagprogram, is trots op alles wat sy al hier geleer het: “Verf, brei, naald­werk, parenting.” Sy vertel: “Toe ek so vier maande ver was, het ek vir Theresa (Magdalenahuis se dagprogram-assistent) by die daghospitaal ontmoet. Theresa het my van die program gesê, en van hoe hulle my kan help. “Ek was toe baie geworried, Mevrou. So heeltemal op my eie.”

Maar nou is sy nie meer bang nie. Net baie opgewonde. Sy het selfs al geleer hoe om ’n babatjie te bad. Sommer op Thando – een van die ander meisies in die program se babaseuntjie – geoefen. En geleer wat om te doen as ’n kleintjie gastro of koors het. “Alles gaan so goed met my eie baba, ek kon selfs een check-up skip. All is well. En die familie is ook vreeslik opgewonde. Dit is die eerste kleinkind aan beide kante. As dit nie vir Magdalenahuis was nie, Mevrou, waar sou my hulp vandaan gekom het?”

Stephny sê: “Ons werk met mense se diepste seer. Benewens krisisswangerskappe en die eerste duisend dae, lewer ons ook aannemingsdienste aan kinderlose ouerpare. En, onthou, elke egpaar het hulle eie ges­kiedenis van trauma en verpletterde hoop en weer probeer, weer waag. Daarom tree ons sensitief en verantwoordelik tot hulle lewe toe. Ons plaas ons meisies se babas met oorleg. En tussen die geboorte en die plasing het ons spesiale veiligheidsouers wat tydens dié oorgang verseker dat die baba liefde en stabiliteit ervaar.”

Daarbenewens lewer Magdalenahuis ook ’n herkomsdiens – vir aangenomenes of biologiese ouers wat die ander betrokke party wil opspoor. Dit is ’n intens emosionele pad wat te alle tye met groot omsigtigheid, wysheid en deernis benader word.

Daar is natuurlik ook baie ander rolspelers en vrywilligers wat help, mense vir wie dit belangrik is om nie net finansieel by te dra nie, maar ook van hulle tyd te gee. Dit het te doen met liefde. En heelword.

Zanne Stapelberg de Lange, bekende operasangeres en Magdalenahuis se beskermvrou, vertel opgewonde dat haar betrokkenheid by Magdalenahuis haar lewe verander het.

“As ma is ek so bewus van hoe broos ons kinders is. En hoe afhanklik van positiewe invloede. En dat ons hulle ten alle koste moet beskerm. Vir óns kinders is dít ’n gegewe. Maar die meisies met wie ons werk, is so verniel deur die lewe, meeste van hulle se realiteit so wreed en ongenaakbaar, dat hulle nooit die kans gehad het om te droom nie. Magdalenahuis se merkwaardige maatskaplike werkers en vrywilligers help hulle om weer mens te word, om lief te wees vir hulleself en te leer dat hulle liefde werd is. Jy moet hulle oë sien,” sê sy.

Magdalenahuis se suksesverhaal bestaan uit baie mense se omgee. Elsa Botha het 15 jaar gelede al betrokke geraak as veiligheidsouer. “Vir so ’n lang, maer seuntjie,” glimlag sy met heimwee. Die afgelope twee jaar is sy hulle bemarker en fondswerwer.

Elsa is ’n vrolike mens. Sy het drie kinders. Twee van hulle is aangeneem. “Mense vra dikwels vir my: ‘Is jy liewer vir jou eie kind as vir hulle?’ Dan sê ek: ‘Hallo? Eie kind? Hulle is almal my eie!’” Dit lê haar lag en haar oë vol: Sy het hulle onvoorwaardelik, intens en ewe veel lief. Soos net ’n ma kan.

Magdalenahuis is ook betrokke by gemeenskaps­uitreikprogramme. Hierin speel hulle gemeenskaps­werker, Jacque Pondo, ’n enorme rol.

En Janine Higgo, klinieksuster by Clicks-apteek, sê: “Om telkens deur die mense van Klipheuwel verwelkom te word, bly steeds ’n spesiale ervaring met die wete dat dit nie net hulle is wat gehelp word nie, maar ook ons as mens wat deur ons betrokkenheid geleentheid gebied word om ’n klein verskil te kan maak in hulle swaarkry.”

Soos Magdalenahuis ouer word, word die storieboek van mense wat baat gevind het by die sentrum al hoe dikker en meer fassinerend. Soveel babas se lewe is ingrypend verander; mammas is gehelp om deur­dagte besluite oor hulle kinders te neem; kinderlose ouers kon die vreugde van ’n aanneembaba ervaar; aangenome persone is met hulle biologiese ouers en families herenig en gemeenskappe is ingelig oor intimiteit en volwasse, verantwoordelike keuses rondom seksualiteit.

Ds Stef Esterhuizen (ondervoorsitter van die beheerraad), Elsa Botha (bemarker en fondswerwer) en Stephny du Plessis (programbestuurder) vertel opgewonde, oor tee en melktert, van al hulle aktiwiteite en wys ’n video waar Zanne Stapelberg de Lange by ’n funksie saam met die meisies sing.

En sou daar dan, desondanks, ’n swangerskap kom, is Magdalenahuis koesterend daar: Die kerk se biesiemandjie, wat onverwagse, weerlose Moses-babatjies en hulle beangste, moedelose ma’s toevou in veiligheid. Waar liefde onophoudelik uitgedeel word. Waar mense se doodlope omskep word in snelweë. Waar kliënte se gebrokenheid omgekeer word omdat die Here-van-hoop-en-liefde wonders doen wat mense verbaas laat oor die ongekende herstel en genesing wat Hy te midde van soms morsige omstandighede bewerk.

“Sê asseblief baie dankie vir die kerk se steun deur al die jare,” vra ds Stef, met duidelike emosie. Die kerk is ook húlle biesiemandjie.

Geen geboorte is sonder pyn nie. Magdalenahuis s’n was nie. Nie een van die meer as 5 500 vroue wat hulle al gehelp het s’n was nie. Nie ’n enkele aanneming of hereniging is nie. Dit is nooit sonder pyn nie. Maar dit word meestal gevolg deur intense vreugde. Want dit is soos dit is: Diep emosies gaan gepaard met die ontstaan van lewe.

Toe ek uitstap kar toe, en hy staan daar sonder rook en vlamme, voel ek tranerig van verligting. Nie net oor my voertuig nie. Oor die mense van hierdie huis – wat my weer, soos die wyse Aristoteles, herinner het: Hoop is ’n droom wat aanhou selfs nadat ’n mens wakker geword het.

Magdalenahuis se kontakbesonderhede is: info@magdalena.org.za, www.badisa.org.za en 021 948 3637. Die bankbesonderhede is: Magdalenahuis, Absa (Parow 334310), 390520026.