Om die onsêbare tog te sê

In die Christelike teologiese diskoers word daar nog altyd geworstel met die vraag hoe mens tegelyk oor sowel die transendensie van God as oor die immanensie van God kan praat.

In die sogenaamde apofatiese benadering (van die Griekse woord apofasis wat “ontkenning” beteken) word daar sterk gefokus op die transendensie van God as die Gans Andere en die onvermoë van die mens om iets oor God te kan sê. Daarteenoor word daar in die sogenaamde katafatiese benadering (van die Griekse woord katafasis wat “bevestiging” beteken) meer aandag aan die immanensie en kenbaarheid van God gegee.

Dit is veral in die Oosters-Ortodokse tradisie – meer as in die Westerse (Katolieke en Protestantse) tradisie – waar daar op kreatiewe wyse vasgehou word aan die kreatiewe spanning tussen die onkenbaarheid en die kenbaarheid van God. Terwyl die onkenbaarheid van God as uitgangspunt dien, word daar tog ver­onderstel dat die mens se ervaring van ’n ontmoeting met God dit moontlik maak om in, weliswaar gebrekkige menslike taal, oor die Gans Andere te kan praat. Geloof in God maak dit trouens noodsaaklik om iets van die ervaring met God te verwoord.

Hierdie worsteling word op fassinerende wyse ook in die Christelike kunstradisie weerspieël waar daar nagedink word oor die wyse waarop die transendente werklikheid van God en van geloof in God visueel voorgestel kan word.

’n Kunstenaar wat heelwat aandag aan hierdie problematiek gewy het, nie net in die praktyk van sy skilderkuns nie, maar ook op teoretiese vlak in sy boek On the Spiritual in Art is die Russiese skilder Vasily Kandinsky (1866-1944).

As toegewyde lidmaat van die Russies-Ortodokse kerk wou hy enersyds (op katafatiese wyse) uitdrukking gee aan sy geloofservaring, maar andersyds ook (apofaties) rekening hou met die onuitspreeklike aard van hierdie ervaring.

Wat hy met sy kuns wou bewerkstellig, het hy soos volg met musiek vergelyk:

“Colour is the keyboard. The eye is the hammer. The soul is the piano, with its many strings. The artist is the hand that purposefully sets the soul vibrating by means of this or that key.”

Dit kon volgens hom nie bewerkstelling word deur die replisering of representasie van sigbare objekte nie, maar deur ’n nie-presentatiewe, abstrakte benutting van kleur, kleurkombinasies en ander struktuurelemente – vergelykbaar met die emosionele en spirituele effek wat ’n komponis bewerk met die aanwending van klank, klankkombinasies en ander musikale struktuurelemente soos vorm, tempo en klankintensiteit.

’n Voorbeeld van hierdie benadering van Kandinsky is sy werk Komposisie 6 (een van ’n reeks van 10 Komposies). In hierdie werk wou hy uitdrukking gee aan die verband tussen die Bybelse vloedverhaal en die Christelike doop, en terselfdertyd aantoon hoedat vernietiging en wedergeboorte op paradoksale wyse in sowel die vloedverhaal as die doopgebeure aanwesig is.

Hy het meer as ses maande spandeer aan navorsing en voorbereiding met die oog op die skildery en reeds die basiese struktuur op ’n groot houtpaneel gekarteer. Op daardie stadium het hy egter ’n kunstenaarsblok beleef en dit feitlik onmoontlik gevind om voort te gaan met die werk. Sy assistent het hom toe die advies gegee om die Duitse woord überflut (“vloed”) as ’n soort mediatiewe mantra te gebruik. Hy het dit gedoen en die werk binne drie dae voltooi.

Die resultaat is ’n werk vol beweging en skerp kleurkontraste. Die gebruik van swart en rooi dui op vernietiging en konflik, terwyl blou en geel onderskeidelik uitdrukking gee aan die vrede en vreugde van nuwe lewe.

Die wyse waarop hierdie teenstellende aspekte in die kunswerk met mekaar vervleg word – soms vloei­end, soms konfronterend – gee uitdrukking aan die werklikheid dat vernietiging en hergeboorte dikwels gelyktydig aanwesig is in ’n krisistyd soos die vloedgebeure en ook in die krisisgebeure wat in die Christe­like doop versinnebeeld word: deur die afsterwe van die oue tree die nuwe na vore. En in plaas daarvan dat dit as ’n eenmalige gebeurtenis gesien word, is dit ’n blywende deel van die menslike lewenswerklikheid: die voortdurende proses van ou dinge wat verbygaan, en nuwe dinge wat gebore word – ’n proses wat meermale gepaard gaan met ontwrigting en pyn.

Die feit dat die skildery nie ’n realistiese voorstelling van die Bybelse vloedgebeure of van die Christe­like doopbediening bied nie, verleen enersyds ’n meer universele betekenis daaraan (dit wil sê: toepaslik op alle lewens- en samelewingskrisisse) en andersyds ’n fokus op die spirituele aard van sulke krisisgebeure.

Die speelse aard van die werk maak dit duidelik dat selfs die donkerste krisis nie die hoopvolle moontlikheid van nuwe lewe uitsluit nie.

Kandinsky het self die volgende oor hierdie werk gesê:

“A tremendous disaster, which is taking place objectively, is an absolute and, at the same time, independent warm song of praise, similar to the anthem of a new creation following the disaster.”

’n Werk soos hierdie kan ons dalk help om in die onsekerhede en krisisse van ons tyd, die hoop te behou dat God sy wêreld in stand hou en dat die oue meermale plek maak vir iets nuuts en beter.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.