Toe kon ek verstaan

Ds Willem Botha, emeritus-leraar van Bloemfontein, skryf:

Na aanleiding van die artikel “Christen en gay … in die NG Kerk” (Kerkbode, 20 April) volg my eie verhaal.

My waardesisteem is gevorm in ’n familie, gemeente, kerk en omgewing waarin die “American evangelism”, Skotse piëtisme, Victoriaanse preutsheid en ons eie Aksie Morele Standaarde, ’n organisasie wat boeke deurgegaan het vir vloekwoorde, so geïnternaliseer was, dat dit deel geword het van die kollektiewe genetika van die NG Kerk. Soos dit trouens vandag tot ’n groot mate steeds is.

Dit is bevestig en versterk deur die studenteleraars van daardie tyd en tydens skoolverlaters- en studentekampe. Ek kon op grond van elkeen van die tien gebooie bewys dat dans ’n doodsonde was. Vandag nog kan ek nie dans nie en kry ek dit nie reg om op ’n Sondag koerant te lees nie.

Ek was doodseker dat gay mense nie gered kan word nie. Ek kan onthou hoe ek en ’n jong tokkelok ernstig saamgebid het dat die Here hom sal help om selibaat te bly. Hy het na ’n kort tydjie in die bediening sy eie lewe beëindig uit wanhoop.

Daardie tyd het die sinodes besluite geneem oor apartheid, vroue in die amp, die geluksgodin, hoede, popmusiek, rook, drank, kort rokkies en lang hare, altyd met die kwalifikasie “óns en die Heilige Gees het besluit”. Sonder uitsondering is daardie besluite weer herroep deur óns en die Heilige Gees en voor om verskoning en vergifnis gevra.

Ongelukkig kan die pyn en vernedering wat mense en hulle families verduur het in die toepassing daarvan, nie ongedaan gemaak word nie en selfdood kan nie reggestel word nie.

My insig het nie verander weens teologiese oorwegings nie. Daar het net ’n klok in my brein al harder gelui en ek het al meer kwaad geword vir die liberaliste, die sogenaamde Trojaanse perde in die Kerk.

Toe verstaan ek eendag dat ek gyselaar gehou word in my eie kop deur groepsdruk en ’n tipe Joods-Christelike moralisme en dat die lawaai die simptome is van erge kognitiewe dissonansie.

Daarna kon my sin vir geregtigheid my ingeprente waardesisteem en God se openbaring in die Bybel en die natuur integreer. Toe eers kon ek verstaan wat die Here Jesus bedoel het dat die wet en die profete “hang” aan die liefdesgebod. Nooit weer kan ek in my gewete gebind word nie.

Ek is net jammer oor sommige goed wat ek by honderde katkisante ingeprent het en verwyt myself dat ek teen my beterwete vir ds Hein Kotze, na wie in bogenoemde artikel verwys word, in die steek gelaat het by die laaste sinodesitting in die Vrystaat, toe hy vingeralleen vasgestaan het.