Die rou-pad is ’n lang pad

ROU VRUGTE
Deur Gerda Whitehorn
Self uitgegee in 2017


Daar is min traumas wat ’n mens so hard tref soos die skielike, te vroeë dood van ’n naby geliefde.

Dit het met Gerda Whitehorn as dogtertjie gebeur toe haar pa dood is, en sy het gesien hoe haar ma daardeur worstel. Toe tref dit haar as jong ma met kinders toe háár man verongeluk, en sy self daardeur moes gaan.

Rou vrugte is haar “reisjoernaal van die rou-pad”. Dit is ’n dun boek van net 100 bladsye, maar dit vertel ’n diep, eerlike verhaal van pyn, van lesse, van situasies hanteer, en van deursettingsvermoë.

Wat duidelik is, is dat daar nie kitsantwoorde is oor hoe ’n mens so ’n krisis moet hanteer nie. Hierdie boek wil ook nie so ’n kitsantwoord gee nie.

Pleks daarvan getuig die skrywer se verhaal van deur-leefdheid. ’n Mens voel haar verslaentheid, maar deel ook in die humor. Daar is duidelik tye van moedeloosheid, maar ook tye van moed skep in haar verhaal.

Haar reis neem ’n mens na die geestelike vrae en worstelinge, maar ook na die heel praktiese dinge, soos die koop van die begrafnisrok waarin sy ingeboelie is. Dit vertel van die ervarings en gebeure van die dae direk na die dood, maar ook van die maande en jare daarna. Die verhaal van haar Spaanse dansklasse as “reaksie op die skuinshou van die dood” is skreeusnaaks.

Uiteindelik verskyn die boek meer as 30 jaar na haar man se dood. Miskien dra dit by tot die rypheid waarmee dit alles vertel word.

Hoe ook al, daar is in Rou vrugte ’n diep menslikheid en wysheid wat waarskynlik waardevol sal wees vir elkeen wat ’n soortgelyke pad moet stap.

▶ Die boek is beskikbaar by Whitehorn self by gerda@whitehorn.co.za