Die roeping is om God na te doen

In sy huidige vorm word die grootste deel van Deuteronomium aangebied as ’n afskeidsrede van Moses pas voordat die volk van die Here die beloofde land intrek. Dit is as ’t ware ’n preek wat vir God se mense beduie hoe jy uitdrukking gee aan die koninkryk van God in die land wat Hy aan hulle gee om in te woon. Indien ons Deuteronomium 10:12 – 11:1 as ’n afgeronde eenheid lees, kom daar interessante perspektiewe na vore.

Deuteronomium 10:12-13 is ’n oproep om die Here te vrees, sy gebooie te gehoorsaam en Hom lief te hê. Hoofstuk 11:1 herhaal die opdrag om God se gebooie te gehoorsaam en Hom lief te hê. In die destydse wêreld het liefde onder meer beteken om jou aan iemand te verbind en om vanuit hierdie lojale verbintenis te leef.

Deuteronomium 10:14-15 sluit aan by die skeppingstradisie dat die Skepper van hemel en aarde sy mense uit al die geslagte gekies het en Hom aan hulle verbind het. Vers 21-22 ondersteun die gedagte, maar deur nou by die uittog-tradisie (verlossing uit Egipte) aan te sluit. Ons leef dus uit ons lojale verbintenis aan die Here, omdat Hy, die Skepper van die hemel en aarde, die Een wat ons verlos, Hom eerste aan ons verbind het (ons eerste liefgehad het).

Deuteronomium 10:16 en 20 bevestig die oproep dat God se mense vanuit sy verbond met hulle moet lewe. Daar staan in vers 16 letterlik “besny die voorhuid van julle hart”. Om vanuit God se liefde vir ons te leef, moet deel van ons wese wees en nie kosmetiese vertoon nie.

Mense wat vanuit God se lojale verbintenis aan hulle leef, is mense wat God naboots – mense wat God se koninkryk sigbaar, tasbaar vir mekaar en ander maak.

Oor dít waarin ons God moet nadoen, staan in Deuteronomium 10:17-19 die Here wat ons God is, is (letterlik vertaal) “die God van die gode en die Heer van die here, die grote, die magtige, die ontsagwekkende”, Hy trek vir niemand party nie en sy guns kan nie gekoop word nie. Hy handhaaf die regte van die vaderlose en weduwees, terwyl Hy die vreemdeling “lief het” (Hom óók aan die vreemdeling verbind) deur hulle kos en klere te gee. Omdat ons verloste vreemdelinge is, moet ons God hierin nadoen. 

Hoe maak ons die koninkryk van God sigbaar in Suider-Afrika? Deur vanuit ons, wat vreemdelinge vir mekaar was (steeds is), se lojale verbintenis aan mekaar te leef (deur mekaar lief te hê), omdat God ons eerste liefgehad het en as vreemdelinge verlos het.   

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.