Liefde oorwin vrees

Laurence Mambu bry-rol haar r’e soos ’n tipiese Franssprekende wanneer sy Engels praat. Daarom sit sy, as “foreigner”, tjoepstil in ons taxi’s. Staan eenkant op die skoolgrond. Dit is gevaarlik hier tussen vreemdelinghaters. Xenofobie is nie dood nie. Haar aksent verklap haar herkoms.

Sy het 17 jaar gelede, as 23-jarige regsgeleerde, uit die onstuimige Demokratiese Republiek van die Kongo na Suid-Afrika gevlug. Vir veiligheid. Nie vir ’n beter werk of toekoms nie. Vir blote oorlewing. Maar toe is Suid-Afrika vir haar ’n verpletterende ontnugtering!

Hoekom Suid-Afrika? Want sy het gedink: “Ek moet in Afrika, op hierdie swart kontinent, bly. Dit is my hart-grond. Africa is my home.” Die meeste van haar sibbe is verstrooi oor die wêreld – die VSA, Duitsland, soos baie ander Kongolese.

Laurence het egter Suid-Afrika gekies, want as dogtertjie het sy eendag, toe sy en haar pa saam winkel toe was, Nelson Mandela se kavalkade sien ry. Haar pa het haar ons geskiedenis vertel. Sy was jammer vir ons mense. Vrydae het hulle by haar
skool geld ingesamel vir die arm Suid-Afrikaanse kinders. Gereeld gevas en gebid by die kerk. “Therefore I chose South Africa. I thought they were my brothers.”

Getraumatiseerd deur die oorlog in haar eie land, het sy verwag ons mense sou verstaan: “I was at the end of the road, there was no way out for me.” Tot haar skok loop sy haar toe hier vas teen vreemdelingehaat: swart mense wat ander swart mense soos vyande, soos uitvaagsels, behandel. “We were like a snake out of the forest inside someone’s house.”

Sy het haar bes gedoen om terug te gaan, maar almal in die Kongo het gekeer: “Moenie terugkom nie, mense word doodgemaak hier.” Terwyl almal in Suid-Afrika snou: “Gaan weg, ons wil julle nie hier hê nie!”

“It was too much.” Om uit een ongenaakbare plek in ’n ander, harder een vas te vlug. Uitgelewer.

Hoe verduidelik jy die vrees vir iemand? Jy sit daagliks in taxi’s, altyd angsbevange. Ingehok saam met mense wat jou kinders kan skade aandoen. Daarom ontwortel jy hulle liewer heeltemal. Jy leer hulle nie Frans of Swahili nie. Verdoesel hulle identiteit. Niemand moet kan hoor of sien hulle is buitelanders nie.

In hierdie desperate tyd, ontdek Laurence die MathMom-projek wat uit ’n vennootskap tussen die NG gemeente Sonstraal in Durbanville en die Evangelies Lutherse Gemeente in Elsiesrivier gebore is. MathMoms span die krag van moederliefde in om kinders wiskundevaardig te maak.

In ’n netwerk van gesonde verhoudings skep elke MathMom, vrywillig, ’n veilige ruimte by haar huis waar kinders kan ontwikkel – in baie meer as bloot net somme-maak. Wiskundekennis en lewensvaardighede word vermenigvuldig deur verskeie kursusse en medemenskontak.

En Laurence word ’n MathMom.

Haar gesig verhelder merkbaar wanneer sy vertel. “Meeting the MathMoms was a breakthrough for me. It was like someone just gave me a hug. That was all I wanted. Someone telling me that it will be okay.”

In die daaropvolgende maande het haar familie haar sien verander. Voorheen was haar huisie se gordyne altyd toe, deure gesluit. Sy wou geen kontak met die buitewêreld hê nie. Wou nie raakgesien of van geweet wees nie.

Nou het sy die selfvertroue gekry om haar kinders weer te laat buite speel. Bietjie vir bietjie oorwin sy haar vrees. Want sy begin verstaan: Nie alle Suid-Afrikaners haat vreemdelinge nie.

So word twee gemeentes se omgeeprojek vir kinders ’n veilige hawe vir ’n Kongolese vlugteling. Die ruimte waar sy geborgenheid kry, word een waarin sy weer liefde en geborgenheid kan gee vir ander wat dit nodig het. En deur die gee, kom daar ook genesing vir haarself. Die evangelie se som klop: Liefde ontvang plus liefde gegee is gelyk aan oorwinning oor die vrees.

Lees meer by mathmoms.co.za oor die projek.