Wellington hou konsert vir Mia

Op Sondag, 20 Mei, het die Moederkerk in Wellington se kerksaal uit sy nate gebars.

Want op dié dag moes die jongspan hulle kategeselokaal met die hele gemeenskap deel om sodoende geld in te samel vir Mia Coetzee, ’n vyfjarige kankervegtertjie en doop lidmaat van die gemeente.

“Clarice en die reënboogkids” het ’n musiek-vertoning in dié Bolandse dorp kom doen om fondse in te samel wat vir Mia se MRI-skanderings gebruik kan word. Dié duur skanderings, wat sowat R26 000 per keer kos, word nie deur die gesin se mediese fonds gedek nie.

Mia Coetzee en haar ma, Anja. Foto’s: Jaomi Zeeman

Mia is onlangs gediagnoseer met ’n rare jellie-agtige gewas naby haar breinstam wat net by een uit ’n miljoen mense voorkom en uiters skaars is by kinders. Sy het vroeër die maand ’n operasie onder-gaan om die gewas te verwyder en ’n beskadigde nekwerwel op te bou.

Chantelle Grobler, ’n ma by Mia se kleuterskool, vertel: “Die Here het Mia die hele tyd op my hart gedruk.” Die sangeres, Clarice, is ’n vriendin van Chantelle en toe sy hoor Clarice kom optree by ’n kerk in die Paarl het alles in plek geval. Die Moederkerk het ook ingestem om hul saal te gee en kategese vir dié dag vir ’n konsert te verruil.

Volgens Chantelle het hulle vooraf  ’n skenking ontvang om Clarice se optrede te dek. Besigheid-
skenkings, toegangskaartjies en eetgoed by die konsert het tot dusver R52 000 in die Coetzee’s se spaarbussie beteken.

Voor dié konsert het die gemeente vir Mia en ander siekes gebid. Ds Lettie Büchner, predikant by die gemeente, het haar Jakobus-Pinksterreeks afgesluit.

Lettie vertel dit was vir haar persoonlik uitdagend omdat Jakobus 5:14 ouderlinge oproep om vir siekes te bid en hulle met olie te salf. En as hulle gelowig bid, sal dit genesing bring, lui die vers.

“Ek het twee punte beklemtoon: Dat daar genoeg bewyse in die Bybel is dat ’n mens se genesing nie afhang van jou geloof nie. Genesing kan ook soms anders lyk as wat ons verwag. Indien genesing van ons geloof afhang het ons almal groot moeilikheid.

“Tweedens wíl die Here soms mense genees en moet ons as gereformeerdes weer ons grense verskuif en wel moedig vir siek mense bid. Maar ons moet onthou dat dit nie oor ons gaan nie. Dis ’n afhanklik-heidsverklaring dat God die Groot Geneesheer is. Ons doen dit nie demanding en ook nie veeleisend nie.”

* Stuur ’n e-pos na grobler.chan@gmail.com as jy wil help.