Bredasdorp se gemeentes word na 104 jaar een

Ná ’n aparte naasbestaan van 104 jaar het die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se twee gemeentes op Bredasdorp op Pinkstersondag een saamgevoegde gemeente geword.

Ds Braam Coetzee sê dié eenheid kom ’n lang pad. Die afgelope 10 jaar kom die twee gemeentes se leraars weekliks byeen en deurentyd het die twee gemeentes goed saamgewerk.

Veelkleurige ballonne styg saam langs die kerktoring die lug in op. Dit sluit aan by die oortuiging dat Bredasdorp se eenheid op diversiteit gebou is. Foto’s verskaf

En selfs as ’n mens verder terugkyk in die geskiedenis kan ’n mens die boustene sien wat deur die jare gelê is.

Ds Arné Leuvennink, die VGK-dominee van die saamgevoegde gemeente, sê die NG Sendingkerk het al in die laat 1800’s tot stand gekom, maar die NG gemeente op Bredasdorp wou nie hulle bruin lidmate laat gaan nie. Eers in 1914 het daar ’n afsonderlike gemeente vir hulle tot stand gekom.

Coetzee sê selfs in die 1980’s was daar goeie samewerking tussen die twee gemeentes. Daar was altyd ’n hart vir mekaar en ’n hart vir die koninkryk van God. Coetzee beklemtoon die lang geskiedenis, want hy wil dit duidelik maak dat dit nie die huidige dominees was wat so oulik was nie. Dit is die Here self wat die gemeentes oor ’n lang tyd gelei het.

In die laaste jare het hulle dikwels met mekaar gepraat oor hulle eenheid, sê Coetzee. En toe die twee kerke se algemene sinodes die tussenorde tussen die twee kerke goedkeur, het hulle gevra hoe kan hulle dit gebruik om een te word.

Dr Quintus Heine, vorige aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode, het hulle kom help en hulle het die ooreenkoms geskryf waarvolgens die twee gemeentes kan een word.

Dit beteken dat die twee gemeentes as aparte regspersone bly voortbestaan, maar dat hulle in praktyk so ver moontlik as een gemeente funksioneer. Dié ooreenkoms is al vroeër vanjaar deur albei kerkrade goedgekeur. Daarna het hulle twee maande gelaat waarin die gemeentes die saak kon bespreek. In dié tyd is daar ook gemeentevergaderings gehou.

Coetzee bestempel dit as ’n spontane, natuurlike proses waarin daar geen dwang was nie. Hulle doen dit uit geloofsoortuiging en gee die Here die eer daarvoor.

Hulle is nou een saamgevoegde gemeente wat die twee bedieningspunte behou, maar wat met feesgeleenthede soos Pinkster, die Week van gebed en Kersfees saamkom. Verder het hulle een kerkraad, een nuusbrief wat na almal toe uitgaan, een almanak vir die gemeente.

Ds Stan Voges sê hulle is nou soos ’n pasgetroude paartjie. Hulle is nou een, maar sake soos die finansies moet nog uitgesorteer word. Hy sê by ’n volgende kerkraadsvergadering wil hulle praat oor terminologie, sodat almal dieselfde taal praat.

Leuvennink sê van die VGK se kant af is hulle ook opgewonde en dankbaar oor die samevoeging van die twee gemeentes. Daar is uitdagings, maar hulle het ’n geloofstree gegee. “Ons is weer saam soos dit hoort,” sê hy.

By die feesgeleentheid het ds Cornie van der Merwe gepreek uit 1 Johannes 4:7-21. Johannes, sê Coetzee, is die dissipel wat vreesloos liefgehad het. In die preek was daar twee hoofpunte. Die eerste is dat die eenheid voortgekom het uit die liefde vir God, nie uit strukture nie. Die tweede is dat die gemeente ’n koninkrykgemeente is wat bestaan nie ter wille van homself nie, maar ter wille van die wêreld.

Hulle het nagmaal gehou en Coetzee het die eenheidsverklaring gelees waarin daar verklaar word dat hulle nou een saamgevoegde gemeente is met een naam. Daarop het die gemeente geantwoord met die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Die gemeente het uitgegaan en ’n aantal wit duiwe losgelaat as simbool daarvan dat die Heilige Gees die weg aandui. Daarna het hulle die bonte mengelmoes van ballonne losgelaat. Dit was die teken van die diversiteit waarin hulle eenheid lê.