‘Dis nie ’n band nie, dis ’n leefstyl’

Album: S1NG
Groep: S1
Beskikbaar by: www.s1worship.co.za
Resensie deur Nico Bezuidenhout


Dis nie ’n band nie, dis ’n leefstyl,” is die eerste gewaarwording wat jou beetpak as jy na S1 se CD, S1NG, luister. Dit is ook hierdie groep se benadering tot hul bediening.  Hulle is nie nog ’n band wat wil CD’s verkoop en handtekeninge uitdeel nie. Hulle musiek gaan oor die Goeie Nuus en hulle bediening getuig daarvan.

Piet de Wet (kitaar en vokaal) vat die groep se benadering mooi saam in ’n YouTube-video op hul webtuiste: “… om te sê jy is in ’n groep wat Jesus se Naam groot maak deur worship, saam met jou beste vriende, is die beste ding op aarde.”  S1 bestaan uit vier lede: Ferreira Marais (kitaar/vokaal), Piet de Wet (kitaar/vokaal), Luan Swart (dromme) en AJ Meyer (baskitaar).

S1 se musiek sal beslis aanklank vind by die jonger geslag, maar daar is werklik iets vir almal op hierdie album. Indien daar in jou gemeente of gemeenskap ’n musiekgroep is wat hul musiek wil gebruik, kan jy die lirieke, met die kitaardrukke, by hul webtuiste gratis aflaai.

Ferreira en Piet se helder, skoon stemme is manjifiek gemeng met die instrumente. Jy kry nooit die gevoel dat hulle stemme in ’n ligte oorloggie met die musiek betrokke is vir die meeste aandag nie. Veral die kitare (akoesties en elektries) is meesterlik gemeng, selfs wanneer effekte gebruik is.

Aliché de Wet en Marissa Verheij se unieke stemme word ook op hierdie album gehoor en dra by tot die skep van hierdie besonderse lof- en aanbiddingservaring. In die lied “Morning Dew” (Aliché) en in “All the Glory” (Marissa) sweef hulle pragtige fluweelstemme soos ’n sweefstokarties oor die melodielyn terwyl die luisteraar meegevoer word na ’n aanbiddingservaring waar jy jouself opnuut by God se voete tuismaak.

Elke lied op hierdie album het ’n besonderse bediening … van “Eerste liefgehad” tot “Geen ander Naam”. Kry gerus S1 se musiek en word bedien met ’n lof- en aanbiddingservaring, elke keer wanneer jy daarna luister.

S1 se S1NG ís nie net ’n CD nie, dis ’n leefstyl!

Ds Nico Bezuidenhout is predikant by NG Moedergemeente in Oos-Londen.