Genadewater is God se geskenk

Die droogte op talle plekke in ons land laat ons opnuut nadink oor water. Dit is ’n gepaste tema vir Omgewingsondag (op
3 Junie), wanneer talle kerklike tradisies nadink oor die ekologie. Hoe praat ons geloofstradisie oor water? Is reën die beloning vir sondeloses, en droogte die straf vir goddeloses?

Water word dikwels ’n beskrywing vir genade in ons geloofstaal. Dink maar aan waters waar rus is (Ps 23), of die water van lewe (Joh 4); fonteine van lewende water (Op 21) of riviere in die woestyn (Ps 127). Water is vir diegene wat dors is (Jes 55), wat skoon gewas word (Ef 5), en verlos word (1 Pet 3).

Die teoloog Steve de Gruchy het daarop gewys dat talle Bybelse verhale in duie sou stort indien daar geen rivier, geen vloed, geen put, geen bad, geen see, en geen fontein sou wees nie. Water word geassosieer met lewe, oorvloed, verlossing, genade. “Genadewater”, lui die bekende lied van Richard van der Westhuizen.

Tog speel water nié altyd ’n vertroostende rol in Bybelse verhale nie, en is water nie altyd genadig nie. Dikwels is water woes (Gen 1), verwoestend (Gen 7), lewensgevaarlik (Jona 1), en oorweldigend (Jes 43). In talle verhale is dit die see – hetsy die see waardeur die Israeliete vlug van hulle Egiptiese onderdrukkers, of die see waarin seemonsters herberg vind (ook in ons tyd; dink maar aan Moby Dick of Jaws), of die see waaruit Jesus Petrus trek – wat lewe bedreig. Kortom, water is teologies té gelade om enige oorvereenvoudigde verband tussen moraliteit en water te tref. Daarvan getuig ons geloofstradisie en geloofsverhale by herhaling.

Trouens, die logika van goeie werke wat beloon word (met water), en sonde wat gestraf word (met droogte), word júis in die Evangelies onderbreek – met die uitbeelding van water as geskenk. Die kernbeeld waarmee die Bybel water as geskenk van God uitbeeld, argumenteer Steve de Gruchy, is reën. ’n Geskenk kan egter per definisie nie verdien word nie maar word vrylik gegee. Indien ’n beloning verwag word, is die geskenk nie meer ’n geskenk nie, maar ’n ruiltransaksie. ’n Geskenk is juis vry van die logika van beloning en straf; dit is presies hierdie vryheid wat daarvan ’n geskenk maak. Water kan slegs ’n gawe van God wees indien dit los staan van hoe goed of sleg ons is. As water ’n genadegawe is, word dit slegs vanuit God se oorvloed vrylik en ryklik geskenk.

Niemand besit water nie, dit is God se geskenk.

Die Malawiese teoloog Fulata Moyo skryf dat hierdie beskouing van water – water as geskenk van God – egter wel (ander) etiese implikasies inhou vir hoe die kerk oor water moet dink en water behoort te hanteer. Nie net behoort ons watervermorsing te bekamp en water te bespaar nie – ongeag daarvan of ons onderhewig is aan waterbeperkings – maar ons behoort ons ook te beywer daarvoor dat álmal vrye toegang het tot genoeg skoon, vars water. Water is immers ’n basiese mensereg. Hierdie lewensnoodsaaklike gawe van God, waarsonder geen mens kan oorleef nie, behoort beskikbaar te wees aan almal wat dors het, soos Jesus self ook gesê het.

Niemand besit water nie, dit is God se geskenk.

In die onlangse Steve de Gruchy-gedenklesing praat Isabel Phiri, adjunksekretaris van die Wêreldraad van Kerke, oor die tema: “God of Life, lead us to water justice.” Sy verwys in hierdie lesing na water as ’n simbool vir lewe. Water is die basis van ons welwese, gesondheid en florering. Dit is uiteindelik hierdie beskouing van water wat ook die werk van die Ekumeniese Waternetwerk sou begrond, en waar-vandaan kerke genooi word om blou gemeenskappe – rentmeesters van water – te word. Dit behels om “waterwys” of “waterslim” te leef; om te onthou dat ons almal stroomaf leef, sou Steve de Gruchy ons bly herinner. Dieselfde water wat deur die liggame van mense beweeg, beweeg ook deur die liggame van diere, insekte en plante. Water is ’n geskenk wat bedoel is om gedeel te word, aangesien dit vanuit God se genade alleen aan ons geskenk is. Ons kan water met ander deel omdat ander dit ook met ons gedeel het.

Niemand besit water nie, dit is God se geskenk.

As gedooptes dra ons in die kerk ’n watermerk. Die doop laat ons nie toe om te vergeet dat ons ontvangers is van Godsgenade nie. Ons ontvang hierdie genade ongeag wie ons is en wat ons doen, en daarom kan ons ook vir ander mense hierdie genade gun. Die troosboodskap van God se verkiesende genade is dat selfs ons self nie die genade kan stuit, bestuur of verongeluk nie. So preek Jesus immers sélf: God laat dit reën oor die goeies én die slegtes (Matt 5:45). Die goeies verdien nie die reën nie, en die slegtes verbeur nie die reën nie.

Niemand besit genade nie, dit is God se geskenk.

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.