Loop die spook van 1857 steeds?

Een van die bekendste besluite wat nog deur ’n sinode van die NG Kerk geneem is, is in 1857 deur die negende sinodesitting geneem. By dié vergadering is die vraag gestel oor hoe daar gehandel moet word wanneer blanke en nie-blanke lidmate tegelykertyd by die Nagmaalstafel wou aansit. Die belang van die vraag moet verstaan word teen die agtergrond van ’n gebruik wat in die kerk posgevat het, naamlik om aparte sitplekke vir nie-blankes te voorsien. Dit het veral in Stellenbosch, Paarl, Kaapstad, Riversdal en Calvinia gebeur.

In antwoord op die vraag het die sinode soos volg besluit: “De Synode beschout het wenslik en schriftmatig, dat onze ledematen uit de Heidenen, in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geschieden kan; maar waar deze maatregel, ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak van Christus onder de Heidenen, in de weg zoude staan, de gemeentes uit de Heidenen opgericht, of nog op te rigten, hare Christelijke voorregten in een afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal.”

Hoewel hierdie besluit in die verlede dikwels verskillend geïnterpreteer is, was dit die eerste  amptelike tree na apartheid in die kerk. Met die publikasie van Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif, in 1974, het die besluit wasdom bereik toe apartheid Bybels-teologies gefundeer is.

In 1986 het die NG Kerk amptelik ’n nuwe koers ingeslaan met die publikasie van Kerk en samelewing. Die deure en lidmaatskap van die kerk is vir alle mense oopgestel en die belang van eenheid binne die familie van NG kerke is beklemtoon. Gedurende die afgelope meer as 30 jaar het daar egter bitter min in gemeentes van die kerk verander en wil dit blyk of die spook van 1857 steeds in die kerk loop.

Indien die NG Kerk ernstig is oor haar roeping in die samelewing, sal hierdie spook ter ruste gelê moet word. Formele besluite op meerdere vergaderings gaan min hiermee help. Dit sal op grondvlak in gemeentes moet gebeur. Lidmate sal uitgedaag en toegerus moet word om woorde dade te laat word in ’n multi-kulturele samelewing en hernude laervorming sal ten alle koste vermy moet word. Bly die spook lewendig, sal die kerk se droom om ’n missionale kerk te wees, net ’n droom bly.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.