Waar lê die verwarring?

Die jongste verklaring van die moderatuur van die NG Kerk se Algemene Sinode oor die hofsaak rakende die kerk se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, begin met ’n verwysing na “verwarrende persberigte”. NEELS JACKSON het gaan soek na die oorsprong van die verwarring en gevind daar word op verskillende plekke by mekaar verby gepraat.


Die agtergrond van die hofsaak is die besluite van die Algemene Sinodes van 2015 en 2016 oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Kortliks opgesom kom dit hierop neer:

Die Algemene Sinode van 2015 het die groen lig gegee dat burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag in die NG Kerk bevestig mag word, waar dominees gewillig is om dit te doen en kerkrade daartoe instem. Gay dominees in sulke verbintenisse mag volgens dié besluite ook predikante van die NG Kerk wees.

Die Algemene Sinode van 2016 het dié besluit omgekeer deur te sê dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou vir die kerk aanvaarbaar is.

Die applikante (vier lidmate wat optree namens ’n  groep van 11 wat intussen twaalf geword het) vra die hof om die besluite van 2016 nietig te verklaar. Hulle voer aan dat die kerk teen sy eie kerkorde opgetree het met die herroeping van 2015 se besluit (die prosedurele gronde), maar voer verder ook sub-stantiewe gronde aan, wat te doen het met die regte wat in Suid-Afrika se Grondwet gevestig is.

Dit is in die beredenering van hierdie tweede argument, dat die reg op vryheid van assosiasie ter sprake gebring word. Die applikante voer in paragraaf 108 van hulle eerste verklaring aan dat lede van die LGBTIQA+-gemeenskap ontneem word van die geleentheid om die belangrikste gebeurtenis van die meeste individue se lewe in hul eie kerk te vier. Vertaal uit die oorspronklike Engels lui die paragraaf verder: “Sodoende word hulle reg op vryheid van assosiasie en om ’n sleutelseremonie saam met die lede van hulle eie godsdienstige gemeenskap te beoefen, geskend. Dit tas weer artikels 15, 18 en 31 van die Grondwet aan.”

Die artikels van die Grondwet waarna verwys word, vorm deel van die Handves van menseregte en gaan spesifiek oor die regte tot vryheid van godsdiens, oortuiging en opinie (15), die reg tot vryheid van assosiasie (18), en die regte van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe (31).

Die respondente (die NG Kerk en spesifieke ampsdraers) ontken in sy beantwoordende verklaring dat die besluit van 2016 die applikante se reg tot vryheid van assosiasie aantas. Die kerk sê in paragraaf 174 (vertaal uit die oorspronklike Engels): “Ek ontken spesifiek dat die 2016-besluit die applikante se reg tot vryheid van assosiasie beperk. Hulle is vry om by enige Christelike kerk aan te sluit wat die Bybel soos hulle interpreteer, of om hulle eie kerk te begin. Ek erken dat dit vir hulle moeilik mag wees. Maar hulle moet, op hulle beurt, die belang erken wat die kerk daarin het om die Woord te gehoorsaam soos hy dit verstaan.”

Een moontlike aanleiding tot die verwarring, is dat die applikante die reg van vryheid van assosiasie plaas in die konteks van die sluiting van ’n verbintenis tussen twee gay mense in hul eie kerk. Hierteenoor plaas die respondente dit in die konteks van aansluiting by ’n kerk wat die Bybel soos jy interpreteer of die stigting van ’n eie kerk. By die applikante en van hul ondersteuners het dit die indruk geskep dat die kerk hulle verwerp.

Dit is hieroor dat Netwerk 24 en van hulle koerante vroeg in April berig het onder die opskrif “Gays kan eie kerk begin, sê NG Kerk”. Hulle haal ook vir Michelle Boonzaaier, een van die applikante, aan wat die gedagte dat gay lidmate by ander kerke kan gaan aansluit, as “pynlik” bestempel.

Netwerk 24 het egter nie genoem dat die stellings in die kerk se verklaring deel was van ’n antwoord op die applikante se stelling dat hulle reg op vryheid van assosiasie aangetas word nie. Dit is waarop die moderatuur se verklaring die aandag vestig. Die moderatuur sê pertinent die bedoeling was nie om daardeur gay lidmate aan te moedig om by ander kerke aan te sluit, of dat die kerk nie sou omgee as hulle dit doen nie.

Daarby sê die moderatuur in sy verklaring dat die kerk in 2016 “’n akkommoderende standpunt ingeneem het wat juis die teendeel van so ’n houding aandui”.

Dit is die tweede saak waaroor daar by mekaar verby gepraat word: die vraag of gay mense binne die NG Kerk welkom is of nie. Gay lidmate se spontane reaksie op die besluit van 2016 was dat dit beteken dat hulle nie welkom in die kerk is nie. Daaroor het Kerkbode direk na afloop van die sinode berig. En Stellenbosch se moedergemeente het moeite gedoen om te wys dat gays by hulle aan die nagmaaltafel welkom is, het Kerkbode in sy volgende uitgawe berig.

Gays se argument is dat hulle nie van hulle seksualiteit kan afstand doen nie, en as hulle seksualiteit en hulle verhoudings nie aanvaarbaar is nie, is hulle ook nie welkom nie. Soos een gay lidmaat, Suzan de Jager, onlangs in ’n gedig skryf:

Hier is ek om te sê: Ek loop,
want jy verwerp my diepste
my diepste menswees.
Ek het nie meer krag nie.
Ek sien nie meer kans
vir die gesplete tong
van my geliefde kerk nie.

Aan die ander kant sê die Algemene Sinode van 2016, en dit is na paragrawe soos dié wat die moderatuur verwys, die Algemene Sinode “is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.”