Argitektuur wen altyd

In my eerste jaar as proponent, het ek al by my kollegas geleer dat die gebou altyd wen. Wat hulle daarmee bedoel is dat ons fisiese ruimtes, die uitleg van ons geboue, ’n groot invloed het op ’n mens se ervarings en selfs optrede by die kerk.

Tog dink ek is dit ’n aspek wat dikwels misgekyk word of sonder oorweging aanvaar word. Die maniere hoe ’n gebou ingerig word, kan die kerk se bediening vergemaklik of selfs verhinder.

Ter illustrasie verwys ek graag na ’n voorbeeld uit my eie ervaring. Die bou van goeie verhoudings tussen lidmate is natuurlik vir ons baie belangrik, maar baie min mense het na kerk gebly om koffie te drink en te sosialiseer. Elke Sondag het lidmate gekom, dikwels op dieselfde plekke in die kerk gesit, maar bitter selde ’n nuwe persoon leer ken.

Lede van die gasvryheidsbediening het toe besef dat dit deels veroorsaak word deur die afstand tussen die kerkgebou en die saal waar die koffie bedien word. Die parkeerarea is heelwat nader en mense het half outomaties by die kerk uitgeloop na hulle motors.

Hulle het toe besluit om die tafels en koffie uit te dra en onder die bome te sit naby die uitgang van die kerk. Die hoeveelheid mense wat nou kuier op ’n Sondag het verdubbel bloot deur hierdie klein verandering aan te bring.

Op dieselfde wyse, as almal agter in die kerk sit eerder as voor (iets wat afstand skep tussen die prediker en die lidmate omdat die voorste paar rye dikwels oop bly), is dit waarskynlik omdat die deure agter is en dit die gerieflikste plekke is.

Om kinders in rye te laat sit, kommunikeer onbewustelik dat almal net na een persoon gaan luister, terwyl om in kringe te sit ruimte skep vir almal om mekaar in die oë te kyk en deel te neem,

Tong-in-die-kies sou ek voorstel dat twee ouderlinge wat gedurig armdruk in kerkraads-vergaderings, langs mekaar moet sit met ’n bordjie eetgoed. Dit is baie moeiliker om mekaar dan aan te val en baie makliker om vriendelik te wees as ’n mens se maag vol is.

’n Kerk se fisiese ruimtes is deel van haar kommunikasie en bediening aan haar besoekers. Ons fisiese omgewing is tog ook ’n gawe van God wat ons kan gebruik om Hom te dien. Hoe kan ons dit bewustelik aanwend om die uitleef van ons kerke se roeping te versterk?

Ds Nicola Alberts is predikant van die NG gemeente Hottentots-Holland en lid van die Wes-Kaapse Jong Volwasse Leergemeenskap.