By die SACD kan Christene mekaar vind

Die South African Christian Directory (SACD),  ’n nuwe aanlynplatform wat ’n oorsig bied van die Christelike landskap in Suid-Afrika, is sopas bekend gestel.

Volgens Bybel-Media en die Mergon Foundation, wat dié platform ontwikkel het, word verskeie Christelike kerke, bedieninge, organisasies, inisiatiewe, netwerke en bewegings se kontakbesonderhde en inligting oor hulle werk hierop gedek. Daar is tans meer as 3 000 organisasies wat onder 35 sektore val op die webwerf, met die getal wat daagliks groei.

Dié Christelike platform is ontwikkel sodat Christelike organisasies kan netwerk en in aanraking met mekaar kan kom, kan kommunikeer en kan saamwerk, lui die persverklaring.

Volgens die twee organisasies het hulle die projek aangepak nadat uitgebreide navorsing getoon het dat daar ’n behoefte aan so ’n platform in Suid-Afrika is.

Dr Coenie Burger, besturende direkteur van Ekklesia, sê die impak van kerke en die kwaliteit van lewe in Suid-Afrika word dikwels beperk deur die gebrek aan verenigende aksie. Sy ondervinding is dat die probleem dikwels te make het met die tekort aan kontakinligting en dat mense mekaar bloot nie goed ken nie. Hy is baie dankbaar vir die SACD en al die inligting wat hulle nou toeganklik maak.

Skip Krige, die SACD se projek-koördineerder, glo die platform sal ’n beter verstaan van die kerk, wat haar aktiwiteite behels en waar dit plaasvind tot gevolg hê. Hy sê dit sal uiteindelik help om eenheid te vestig en om so koninkrykaktiwiteite te sinchroniseer.

Gaan besoek self die platform by www.sacd.org.za