Waarom loop hoofstroomkerke leeg?

Daar is ’n duidelike afname in die bywoning van hoofstroomkerke wêreldwyd. Suid-Afrika het ook nie ongeskonde gebly nie. Daar is verskeie invloede wat hiertoe bydra:

Die oorgang na die Nuwe Suid-Afrika in 1994 het baie individuele vryheid gebring. Die nuwe politieke samelewing het die sosiale sisteme verander en daardeur die kerkbywoning van Afrikaanse hoofstroomkerke beïnvloed.

Die etiket van apartheid waardeur Afrikaanse hoofstroomkerke aan vorige regerings verbind word, het ’n negatiewe koppeling waarvan ’n groep jonger volwassenes wil wegkom.

Daar is ’n skuif weg van die modernistiese tydperk waarbinne hoofstroomkerke floreer het (waar strukture, rasionele denke en vaste orde belangrik was) na die post-modernistiese tydperk, waar daar ’n groter verskeidenheid van idees en alternatiewe welkom is en strukture plek maak vir informele interaksies en minder rasionele denke. Jonger mense vind dus nie aanklank by die formele styl, sang, regulering en vaste orde van hoofstroomkerke nie.

Todd Dildine van Chicago noem ook ’n aantal redes wat ek graag aanpas vir die Suid-Afrikaanse konteks:

Mense leef deesdae meer privaat en is dikwels eensamer. In 1985 het 10% Amerikaners aangedui dat hulle eensaam is. ‘n Opname van Harvard-universiteit het bevind dat eensaamheid gegroei het tot 25%. Familiebande is ook in Suid-Afrika minder heg as ’n geslag of twee gelede toe ons nog met ons neefs en niggies hegte kontak gehad het. Ons gemeentes spreek dikwels nie die eensaamheid aan nie.

Mense woon meer verspreid en ook verder van hulle kerk af.

Skerms en tegnologie: Amerikaners spandeer meer tyd in die virtuele ruimte as in die fisiese ruimte. Nuwe generasie selfone, sosiale media en rekenaars annekseer al hoe meer tyd van NG lidmate en daar word meer binnenshuis ontspan. Meer mense kyk eerder op Sondae na TV-eredienste.

Dildine noem verder hoe individualisme mense vervreem van geloofsgemeenskappe. Minder liefdadigheidswerk word gedoen omdat mense besig is en meer op hulleself ingestel is. Dit spoel ook oor na hoe ons ons kinders grootmaak. Wanneer kerk-programme vir kinders en jongmense onvoldoende is, skuif mense makliker na waar hulle bevredig word eerder as om betrokke te raak.

Dit is vir my duidelik dat baie mense in die 21ste eeu meer neig na ’n geïntegreerde spiritualiteit. Goeie Woordverkondiging word versnit deur ’n gemakliker hantering van elemente uit die evangeliese bewegings. Stilte en “retraites” raak meer gewild en sommige mense hou weer meer van geloof wat in aksie oorgaan.

Besige programme wat langer werksure, meer reis en sport insluit, hou mense uit die kerk. ’n Klomp huidige lidmate bevind hulle tans in die buiteland.

Miskien moet die erediens in die lig van al hierdie veranderings herbesoek word. Is dit nie tyd om te besef dat kerkwees oor veel meer gaan as net erediensbywoning nie?

Lê ons taak as die Liggaam van Christus nie eerder oral waar ons beweeg nie?

Dr Barry Tolmay is moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal.