Gelowiges is pastorale mense

Dit is so dat ’n mens se wêreldbeeld ’n reuse-invloed op jou totale funksionering het. Die eenvoudigste van baie teorieë hieroor, is dat daar drie groot wêreldbeelde is waarbinne almal hulleself bevind.

Mense met ’n Westerse wêreldbeeld leef met ’n idee dat God vir ons ’n algemene aanduiding gegee het van reg en verkeerd. As jy nie aan hierdie reg voldoen nie, is jy skuldig en moet jy gestraf word. Skuldig voel, skuld wat bely word, skuld wat betaal moet word – dít is die Westerse ding. Geregtigheid teenoor ander en die reg van elke individu is ook tipiese begrippe wat by mense met hierdie wêreld-beeld voorkom. Jou identiteit hang af van hoe jy korrek leef en die Godgegewe reëls gehoorsaam.

Die Oosterse wêreldbeeld werk nie soseer met reg en verkeerd nie, maar met eer en skande. Die toets is of dit wat jy doen die eer van die gemeenskap verdien en eer toevoeg aan die gemeenskap en of dit ’n skande in die gemeenskap is en die gemeenskap se eer tot nadeel strek. Jou identiteit hang af van jou posisie van eer of skande in die gemeenskap.

Hierdie denksisteem het al, soos die ander, tot baie misbruike gelei. Ons sien maar net te gereeld hoe mense hulle mag misbruik en mense onteer ter wille van die gemeenskap se sogenaamde eer.

In Afrika is die operasionele wêreldbeeld vrees en mag. In die tradisionele Afrika-wêreldbeeld is daar baie meer aktiewe agente in die wêreld teenwoordig as wat met die oog gesien kan word. Daar is onder meer voorvaders en die geeste, die tokkelos en boosheid wat oral skuil.

Al hierdie kragte het vir eeue die moraliteit van Afrika se mense gedomineer. Siekte is onder andere aan boosheid toegeskryf. Aanvalle van hierdie kragte is met mag en geweld bestry. Wat reg is, is nie gehoorsaamheid aan ’n stel reëls nie, maar om die geeste en kragte te ken en met hulle rekening te hou. En mag is belangrik – want jy het die mag nodig om jou en jou mense teen die onsigbare kragte te beskerm.

Groot dele van die Bybel werk nie met ’n Westerse verstaan van reg en verkeerd, en dus skuld nie, maar met eer en skande. Die Bybel het immers sy ontstaan in die Midde-Ooste. Luister byvoorbeeld na Jesaja 54:1-8: “Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here. Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in, want jy sal na alle kante toe uitbrei; jou nageslag sal nasies verdryf en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon. Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy ’n weduwee was nie. Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem.”

God se verhouding met mense gaan dus dikwels om die herstel van hulle eer. Hy tree met hulle in ’n persoonlike verhouding om hulle posisie van skande te deurbreek. Die hele reinheid- en offerstelsel gee uitdrukking aan die eer-en-skande-konsep van destyds. As jy onrein is, word jy buite die gemeenskap geplaas. Jesus se bediening word daarteenoor gekenmerk deur die wyse waarop Hy randfigure se skande deurbreek deur aan hulle te vat en by hulle aan huis te gaan en hulle deel te maak van ’n nuwe soort gemeenskap waarin dieper onderskei word as om net reg of verkeerd of geëer of tot skande gemaak te word.

In Suid-Afrika het ons by verreweg die meerderheid van landsburgers ’n vermenging van hierdie denksisteme. Ons politieke verlede het mense baie sensitief gemaak vir eer en skande. Mense sukkel nog na die 300 jaar van kolonialisme en apartheid om hulle eer te herwin.

Die Ashwin Willemse-voorval het dit so duidelik laat blyk. Die ander kommentators was klaarblyklik nie rassisties nie. Maar die eergevoel van Willemse is deur hulle aandrang dat hy moet praat – sommige sê hy was nie so goed voorberei nie – op die spel geplaas.

Of dalk was dit ’n verwysing na “kwotaspelers” met die veronderstelling dat hulle nie so baie het om op trots te wees nie, wat hom ontstel het. As jy net uit ’n reg-verkeerd-perspektief kyk na sy optrede, was Willemse verkeerd. Maar met ’n eer-en-skande-besef, verstaan ’n mens meer van sy optrede. Eergevoeligheid is immers nie net ’n saak van reg en verkeerd nie.

Gelowiges is pastorale mense. Ons behoort onsself in mense wat skrynerig is oor hulle eer se skoene te plaas. Ons behoort soos God gedoen het met die onvrugbare vrou, en met die volk, onsself in die naaste moontlike verhouding met hulle te plaas, en hulle eer te herstel. Dalk is dit die mees missionale ding wat ons kan doen, om mense se eer te herstel en hulle van skande te red. En daar is geen beter manier as insluiting nie, by ons, in die binne-gemeenskap.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie.